Lewend vir God: Moeg te voet – hardloop met God - 25 Augustus 2026
Louise Gevers
As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in 'n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan? Jeremia 12:5, 1983-vertaling
Onlangs, een Sondagoggend op pad kerk toe, was ek in 'n ongeluk betrokke. Ek het met 'n motor wat om die draai gekom het, gebots. In dié motor was 'n gesin onderweg na die erediens in 'n buurkerk, een straat weg van ons kerk.
Die botsing het letterlik by die laaste stopteken voordat ek moes parkeer, plaasgevind. Die vroegoggend son wat deur die bome en stof geskyn het, het my so verblind dat ek glad nie die ander motor – voor of onmiddellik na die botsing – gesien het nie. Ek het vir 'n oomblik gewonder of ek in die smal straat na die verkeerde kant beweeg het en iets op die sypaadjie raakgery het. Dit is 'n skok om skielik met iets te bots wat jy nie geweet het daar is nie, maar die feit dat dit in 'n stil straatjie gebeur het nadat ek stilgehou, na beide kante gekyk het voordat ek vorentoe gery het, het my heeltemal verwar.
Later, na die skok om met iets te bots wat ek glad nie gesien het nie, en ten spyte van die feit dat ek alles reg gedoen het, het ek gewonder wat God wou hê ek deur dit alles moes leer.
Alhoewel 'n geringe ongeluk, het dit tog die vrede en blydskap van gelowiges onderweg kerk toe versteur. Ek was baie spyt dat ek die ontsteltenis veroorsaak het. Die bestuurder van die ander voertuig het hom egter onberispelik gedra, met genade en deernis. Dieselfde geld sy verskrikte gesin. Toe ons mekaar weer na ons onderskeie eredienste ontmoet, was ons almal duidelik verheug in God se genesende Gees en ek het reeds, sonder dat ek dit besef het, God se uitdaging aanvaar om op Hom te fokus.
Miskien vind God se woorde aan Jeremia oor sy ervaring in 'n ander situasie baie jare gelede tog vandag steeds aanklank.
Jeremia het homself uitgeput deur voortdurend by God te kla oor die voorspoed van die goddeloses want deur sy menslike oë gesien was dit vir hom in teenstryd met God se geregtigheid: "Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?... Hulle neem u Naam graag op hulle lippe, maar U is nie in hulle hart nie. " (Jeremia 12:1b,2b) Dit terwyl hy wat deur God geroep is, moet voortswoeg.
God se antwoord in ons teksvers was nie 'n trooswoord nie, maar 'n uitdaging – "As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in 'n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?" Deur na wat Hy as relatief gering beskou te verwys, het God Jeremia voorberei vir die groter uitdagings wat op hom wag – "hoe sal jy dan met perde meeding" – of Jeremia nou daarmee gemaklik was of nie.
Miskien is dit die rede vir die klein frustrasies. God daag ons ook uit. Nie om ons te breek nie, maar om vir ons te wys waar ons vertroue min is en om dit te versterk voordat ons die "digte bos" bereik. Vir die gelowige is die vraag nie of ons 'n "digte bos" sal bereik nie, maar wanneer. Leer vandag se wedren teen die "voetsoldate" ons om meer op God te vertrou of laat dit ons uitgeput agter vir wanneer die volgende wedren aanbreek?
Gebed: Here, wanneer klein dingetjies my ontstel, leer my om nie die oomblik te vermors nie, maar daaruit te leer. Gebruik my daaglikse frustrasies om my vertroue in U te versterk sodat wanneer groter beproewinge oor my pad kom ek nie onvoorbereid is nie, maar gereed om met U aan my sy te hardloop. Amen