God is almagtig - 3 September 2026
Ben Fourie
Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: "Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!" Genesis 17:1, 1983-vertaling
Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ʼn groot menigte, soos die gedruis van ʼn groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: "Prys die Here! Die Here ons God die Almagtige, heers nou as koning." Openbaring 19:6, 1983-vertaling
In hierdie vers in Genesis is dit die eerste keer in die Bybel dat God homself die Almagtige noem. Die verbond wat Hy vroeër met Abram gesluit het, word hier bekragtig. In die verbond beloof God om vir Abram en sy nageslag ʼn God te wees. Dit was die gebruik dat wanneer ʼn opperheerser ʼn verbond sluit, hy sy titel aankondig. Die titel wat God hier gebruik is bo alle ander titels: “Ek is God die Almagtige”. Niemand kan ʼn hoër titel as dit aanbied nie.
In die visioen wat Johannes in Openbaring sien, is God wat op die troon sit ʼn deurlopende tema. Johannes hoor “die geluid van ‘n groot menigte” wat uitroep dat God die Almagtige is. Dit is betekenisvol dat God in beide die eerste en die laaste boek van die Bybel as die Almagtige aangetoon word. Die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis begin ook met die woorde: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde ...”
Wat beteken dit vir ons as gelowiges dat God die Almagtige is? My woordeboek sê “almag” beteken: “vermoë om alles te kan doen, onbeperkte mag”. Op die Internet kry ek: “Absolute mag; mag oor alles en almal”. Baie politieke en ander figure uit die verlede en hede dink hulle voldoen ook aan so ʼn beskrywing, maar wanneer ons God die Almagtige noem, is dit op ʼn ander vlak.
God die Almagtige is so heel anders as die “almag” wat aardse maghebbers aan hulleself gee. God se almag omspan nie net die aarde en mense en diere en plante nie, maar ook die heelal met sy oneindigheid. Bo alles omspan sy almag ons lewens, sy almag is selfs sterker as die dood. Hy is inderdaad die Koning van alle konings, ons God, nie net van geslag tot geslag nie, maar tot in ewigheid.
Gebed: Hoe kan ons ooit U lof as die Almagtige reg besing? U is soveel groter as wat ons ooit kan dink. Maak ons nederig voor u almag. Amen