God is onveranderlik - 14 September 2026
Ben Fourie
Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob. Maleagi 3:6, 1983-vertaling
Elke goeie ding wat julle kry, elke present wat goed en reg is, kom van bo af, dit kom van die Vader wat die sterre in die lug gemaak het. Die Vader verander nie, Hy is soos 'n lig wat altyd skyn. Jakobus 1:17, Bybel vir Almal
Wanneer ons aan die woord onveranderlik dink kan dit positief of negatief wees. As ons van God praat as onveranderlik, ervaar sommige mense dat Hy onverbiddelik is, streng en onbuigbaar. Dit is egter nie wat die Bybel bedoel met die idee dat God nie verander nie.
In ons twee verse vir vandag en baie ander in die Bybel, is dit baie duidelik dat God se onveranderlikheid juis vir ons, sy kinders, tot voordeel strek.
In die boek Maleagi praat God baie ernstig met sy volk wat reeds 'n tyd lank uit ballingskap teruggekeer het. Die tempel is wel al herbou, maar dit gaan nie goed in die land nie en dit kom voor asof hulle God daarvoor kwalik neem.
Daarom sê God vir hulle in Maleagi 3:6 dat dit nie Hy is wat verander het nie, inteendeel, juis omdat hy onveranderlik is in sy liefde vir sy verbondsvolk, het Hy hulle nie vernietig nie. Die teenoorgestelde het gebeur. Hy het hulle teruggebring uit die land van ballingskap. As hy 'n onverbiddelike God was, sou hulle, soos wat hulle eintlik verdien het, in Babel gebly het. Hulle sou nooit weer hulle land gesien het nie. Maar omdat Hy onveranderlik is, het Hy by sy verbondsbelofte gebly.
In ons Nuwe Testament vers vir vandag gebruik Jakobus 'n pragtige metafoor wanneer hy sê dat ons na die hemelligte moet kyk. Soos hulle, bly God altyd dieselfde. Hy deel sy goeie gawes en volmaakte geskenke aan ons uit sonder ophou en sonder verandering. Die Verklarende Bybel sê oor hierdie vers: “in die Grieks word dit baie strek beklemtoon dat dit (die goeie gawes) voordurend neerdaal.”
God het nie sedert die tyd van Maleagi tot by die tyd van Jakobus verander nie. Hy verander ook in ons tyd nie heeldag van plan oor sy liefde vir ons nie.
Gebed: Onveranderlike God, ons wil opspring van vreugde omdat ons daarop kan staatmaak dat U nooit verander in u liefde vir u kinders nie. Amen.