Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God hoor ons - 21 September 2026

Ben Fourie
 
Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer." Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.  1 Konings 18:37-38, 1983-vertaling
 
“Vra, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra ontvang; en elkeen wat soek kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Matteus 7:7-8, 1983-vertaling
 
Onlangs hoor ek langs die veld, na afloop van die hokkieseisoen, 'n dogter sê dat sy ook graag net een keer die speler van die wedstryd wou wees. Ongelukkig het hulle afrigter haar nooit raakgesien nie, al het sy goed gespeel. Ek het groot simpatie met haar gehad, want daar is min dinge in die lewe wat slegter is as om te voel dat jy nooit raakgesien word nie, of altyd geïgnoreer word. Die meeste mense het tog behoefte om iewers 'n bietjie in die kollig te wees. Die heel ergste is egter wanneer niemand my hoor nie.
 
In die gedeelte uit Konings kry ons vir Elia waar hy op Karmelberg gekonfronteer word deur vierhonderd en vyftig profete van die afgod Baäl, en nog vierhonderd van die afgod Asjera. Elia se taak was om aan die hele volk en ook koning Agab te bewys dat die God van Israel die enigste ware God is. Ons ken almal die verloop van die verhaal. Die afgodsprofete misluk heeltemal, maar wanneer Elia vra “Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is” hoor en antwoord God hom onmiddellik. Hy stuur sy vuur om die offergawe te verbrand en so te bewys dat Hy die enigste ware God is.
 
In Matteus hoor ons vir Jesus waar hy besig is met die Bergrede. Daar sê Hy die onvergeetlike woorde van ons teksvers: “Elkeen wat vra ontvang; en elkeen wat soek kry; en vir elkeen wat klop, sal daar oopgemaak word.” Die kern woord is “elkeen". Die Here hoor ons elkeen so volkome dat niemand, maar niemand, tevergeefs vra en soek en klop nie.
 
God hoor ons dus wanneer ons vir die daaglikse dinge vra, maar ook wanneer ons na Hom soek en bo alles hoor Hy ons wanneer ons vra dat Hy die deur na die ewige lewe vir ons sal oopmaak.
 
Gebed: Baie dankie, liewe Here, dat U nooit doof is as ons na U roep nie. Amen.
Next article: God voorsien - 17 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.