God is ewig - 30 September 2026
Ben Fourie
Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! Psalm 90:2, 1983-vertaling
Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Openbaring 11:15, 1983-vertaling
Ek kan nie presies onthou hoe die storie gaan wat ek as kind gehoor het nie, maar dit was iets oor 'n groot berg van soliede diamant waarteen 'n voëltjie elke 100 jaar sy snawel kom afvee. Teen die tyd dat die berg totaal en al weggeslyt is deur die voëltjie se snawel, is een sekonde van die ewigheid verby.
Selfs hierdie poging om 'n verstaanbare konsep van die ewigheid te skep, is natuurlik verkeerd. Dit maak nie sin om te vra hoe lank is die ewigheid nie. So 'n vraag veronderstel dat ewigheid ook tot 'n einde kan kom, maar dan is dit mos nie meer ewigheid nie. Stephan Hawking het gesê: “How can our finite minds comprehend an infinite universe?” Mens kan ook vra hoe ons menslike verstand die ewigheid ooit kan verstaan.
Ons sukkel met die idee van ewigheid en ook met die idee van God wat van ewigheid tot ewigheid bestaan. Die rede vir hierdie nie-verstaan is dat ons aan ewigheid dink in terme van tyd. Ewigheid is egter nie tydsverloop of selfs 'n “plek” soos ons die begrip “plek” verstaan nie. Dalk eerder 'n toestand.
Om die waarheid te sê, ons het eintlik geen idee wat ewigheid werklik beteken nie. Al wat ons kan sê is dat die Woord van God vir ons sê dat daar 'n ewigheid is. Ons onvermoë om die begrip te verstaan maak gelukkig geen verskil aan die feit dat God van ewigheid tot in ewigheid bestaan nie. Paulus gebruik in Romeine 1:23 'n woord wat met onverganklik of onsterflik vertaal word as hy van God praat. Dit help ons om 'n bietjie beter te verstaan van wat dit beteken dat God ewig is.
In ons teks uit Openbaring word daar veral klem gelê op die gedagte dat God tot in ewigheid as Koning sal heers. Dit is dus nie net 'n blote “daar wees” tot in ewigheid nie, maar 'n Koningsheerskappy. Inderdaad soos die Psalmdigter dit beskryf, sal Hy van ewigheid tot ewigheid God wees.
Al verstaan ek nie, gee die wete dat God tot in ewigheid teenwoordig is op 'n sonderlinge manier vir my groot sekuriteit.
Gebed: Ons dank U wat as Koning vir altyd en altyd en altyd sal regeer. Ons dank U dat ons nie bloot onderdane in u ewigdurende koninkryk sal wees nie, maar u kinders. Amen