Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Soos Elia - 12 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.” Lukas 1:16-17, 1983-vertaling
 
Jesus het die volgende oor Johannes gesê: "Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie ... (Matteus 11:11)
 
Verbasend genoeg het Johannes se eerste opgetekende aksie reeds in die baarmoeder plaasgevind, toe hy van vreugde beweeg het toe sy ma Jesus se moeder, Maria, gegroet het.
 
Terwyl hy opgegroei het moes hy homself seker verwonder het oor die feit dat sy geboorte deur 'n engel aangekondig is en dat sy pa wat oor die boodskap getwyfel het, toe vir maande lank nie kon praat nie. Selfs sy naam was ongewoon vir die tyd.
 
Johannes het toe na die woestyn toe gegaan waar hy deur die Gees sterk geword het. Die Bybel vertel ons niks meer oor sy ouers nie.
 
Later, in die tyd van die hoëpriesters, Annas en Kajafas, het die woord van God tot Johannes gekom en het hy sy bediening in die Jordaanstreek begin. Hy het bekering en die vergifnis van sonde gepreek.
 
Gou het die mense begin wonder of die vurige prediker, Johannes die Doper, die Messias was, iets wat hy beslis ontken het. Hy het dit duidelik gemaak dat die ware Verlosser nog sy verskyning moes maak, en dat hy, Johannes, nie eers werd was om die riempies van sy sandale los te maak nie.
 
Hy het die voorreg gehad om die Lam van God te doop. Terwyl Jesus gebid het, kon Johannes duidelik sien hoe die hemel oopgaan en die stem van God die Vader hoor wat oor sy geliefde Seun praat terwyl die Heilige Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. Wat 'n oomblik moes dit nie gewees het nie!
 
Na 'n ruk het Johannes, hierdie voorloper met sy klere van kameelhaar wat sprinkane geëet het – die beloofde Elia wat sou kom (Matteus 11:14) – genoeg moed bymekaargeskraap om die tetrag, Herodes, oor die sonde in sy lewe te konfronteer. Johannes het in die tronk beland. Terwyl hy daar was, het hy – volgens dieselfde hoofstuk in die Bybel – 'n brandende vraag gehad. "Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” (Matteus 11:2-3)
 
Uiteindelik is Johannes op die bevel van 'n regeerder wat mense wou plesier, onthoof. Dit is duidelik dat om vir God te leef nie maklik is nie. Selfs diegene wat onder die ware "groot geeste" tel, twyfel soms.
 
Johannes was bevoorreg om die Drie-eenheid reg voor sy oë te sien. Wat dan wanneer ons gewone sterflinge twyfel? Ek smeek julle om moed te skep en God te vertrou. Wat ook al gebeur.
 
Gebed: Hemelse Vader, U werk dikwels op maniere wat ons nie verstaan nie. Help ons om vas te staan in ons geloof, selfs wanneer niks sin maak nie. Amen
 
 
Next article: Priesterlike oom en tante - 9 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.