Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Petrus, na alles nie so onkundig nie - 15 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat. Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
Markus 9:2-6, 1983-vertaling
 
Petrus word dikwels uitgebeeld as impulsief, spontaan, iemand wat op instink staatmaak en dinge op die nippertjie doen. Nie dom nie, maar iemand wat halsoorkop instorm waar selfs die engele dit nie sal waag nie.
 
Keer op keer praat hy uit sy beurt. Petrus is soos diegene van ons wat sukkel om gedagtes op 'n gepaste wyse the verwoord, daardie een wat homself kan skop wanneer 'n meer geskikte of gevatte antwoord by hom opkom.
 
In ons teksgedeelte sê nie een van die ander, behalwe Petrus, iets nie. Hy moes eenvoudig iets sê. Hy rig 'n vreemde versoek, om hutte te bou. Is dit vreemd of nie? Waarom het hy daardie versoek uitgeblaker?
 
Ek moet Petrus hier 'n bietjie krediet gee. Hy het daarin geslaag om iets van die stiuasie wat voor hom afspeel, te begryp. Hy het die spierwit, helder lig gesien wat beskryf kon word in terme van dit wat in die latere Joodse tradisie "Shekinah"-heerlikheid genoem word – met ander woorde die heerlikheid van God se sigbare teenwoordigheid. Petrus het Moses gesien wat die Israeliete deur die woestyn gelei het op 'n stadium toe hulle die wolk- en vuurkolom moes volg.
 
Elia, aan die anderkant, was bekend as die profeet van vuur .Petrus se verstand het onmiddellik alles met mekaar verbind, maar die woorde wat uitgekom het, het sinneloos geklink.
 
Tog, dit lyk asof Petrus verstaan het dat God in gemeenskap met die mensdom wil woon. Hy het iets daarvan voor sy oë gesien. Maar nee, dit was nog nie tyd vir die Loofhuttefees nie.
 
Dit is interessant dat in sy weergawe Markus melding maak van klere so blink en wit dat niemand op aarde dit kan maak nie. Dit weerspieël iets van Johannes se visioen op Patmos in Openbaring 1 en van Daniël 7 waar Hy wat ewig lewe op sy troon gaan sit met klere so wit soos sneeu.
 
Jesus was die oorblywende een van die drie. Moses wat die Wet en Elia wat al die ander profete verteenwoordig het, het beide heengewys na Jesus, die Een na wie God sê ons moet luister. Die drie apostels het sitplekke in die voorste ry gehad vir hierdie bonatuurlike ontmoeting.
 
Tog, elke dag het ons die geleentheid om deur ons gebede en in ons stiltetyd God te ontmoet. Ons kan met God verkeer en sy lewensveranderende Woord lees. Ruim jy tyd in om dit te doen?
 
Gebed: Here, dankie vir die geleentheid om wanneer ons dit nodig het, u Woord te kan lees. Ons prys u Seun wat onder die mensdom kom woon het en 'n lewende weg na U vir ons oopmaak. Amen
Next article: Hoop kole vir die braai - 14 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.