Paulus het die lig gesien en die stem gehoor - 19 Oktober 2026
Imogen Campbell
“Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik 'n sterk lig uit die hemel op my gestraal. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. 0Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. Handelinge 22:6-11, 1983-vertaling
Die bekering van die apostel Paulus is na alle waarskynlikheid een van die mees dramatiese gevalle in die hele Bybel. Paulus se roeping vind na die kruisiging plaas toe hy, onderweg na Damaskus om nog Christene te gaan vervolg, die Here ontmoet het. Praat van in jou spore gestuit word.
'n Verblindende lig het op hom geskyn, hy het 'n stem gehoor en op die grond neergeval. Het hy 'n heilige ontmoeting met die Here gehad, of wat? Paulus, 'n egte Hebreër, was letterlik verblind deur die helder lig en moes deur sy metgeselle weggelei word.
Die stem identifiseer Homself as Jesus van Nasaret, 'n benaming wat verskeie kere vir Hom tydens belangrike gebeure in die Bybel gebruik word, onder andere tydens Petrus se toespraak op die pinksterdag – die begin van die kerktydperk. (Handelinge 2:14-41)
Die benaming verskyn ook op bevel van Pilatus boaan die kruis. Jesus is ook so aangespreek toe Hy gevange geneem is.
Op 'n dag het blinde Bartimeus gehoor dat Jesus van Nasaret daar verbygaan, en hy het Jesus letterlik gesmeek om Hom oor hom te ontferm. Daardie dag het 'n blinde bedelaar sig ontvang. Sy geloof het hom genees. (Lees Markus 10:46-52.) Ek kan nie help om aan John Newton se lied, "Genade onbeskryflik groot" ("Amazing Grace") te dink nie.
Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys
Verlore seun, 'n wegloopkind weer in die Vaderhuis.
(Luister hier na een van die mooiste opnames van "Amazing Grace": https://www.youtube.com/watch?v=ZoJz2SANTyo&list=PLqAaxjrofZ64GiMLpk65jPpGNOhiC8cDK&index=4)
Paulus se godsdienstige ywer het hom vir die lig van Christus se lewe en sending verblind. Die Lig het egter die duisternis van sy dwaling blootgelê. Hy het tyd nodig gehad om dit behoorlik te verwerk. Jesus kon gesê het Hy is die Koning van alle konings, Here van die here, of enige ander titel, maar Hy stel Homself voor as Jesus van 'n afgeleë dorpie. Wat 'n groot verskil!
Paulus het uiteindelik baie vir hierdie Naam gely. Volgens oorlewering is hy buite Rome onthoof. Tot aan die einde was dit sy begeerte dat Christus in die gelowiges gestalte kry. (Galasiërs 4:19)
Paulus het Jesus, die Woord van God, daardie dag onderweg na Damaskus persoonlik ontmoet. Ons kan ook ons lewens ondersoek deur diep in die spieël en lig van God se Woord te kyk en dit kan ons help om ons harte beter te verstaan. Het jy al die Lig ontmoet?
Gebed: Hemelse Vader, versterk ons begeerte om na die beeld van u Seun gevorm te word. Ons dank U vir die voorbeeld van die lewens van manne, soos Paulus, wat U gekies het om u koninkryk te bevorder Amen