Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Getoets in die smeltkroes van ellende - 21 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie in 'n silwersmeltoond nie. Ek het jou getoets in die smeltkroes van ellende. Jesaja 48:10, 2020-vertaling
 
Die jaar 2020 sal voortleef as een van die mees ontwrigtende tye in menseheugenis. Vir Formule 1-jaer, Romain Grosjean, was 29 November 2020 veral een vir die boeke – dit was die dag toe hy uit 'n vuur uitgestap het.
 
Hy het in die Bahrain Grand Prix gejaag toe sy motor in die eerste rondte die baan verlaat en in vlamme uitgebars het. Danksy sy vinnige optrede was hy slegs 30 sekondes in die vlammehel, maar het nogtans ernstige brandwonde opgedoen, veral aan sy een hand. Om te sien hoe hy uit daardie vuur stap, is soos iets uit 'n ander wêreld. (https://www.youtube.com/shorts/JEu1oMZBI3I)
 
Ek kon nie help om te dink aan daardie drie Joodse manne – Sadrag, Mesag en Abednego – in die vuuroond in Babel nie. O, hoe is hulle geloof nie getoets daar voor 'n selfgesentreerde koning wat vereis het dat hulle hom, instede van die God van Israel, moet aanbid nie.
 
Hulle antwoord wat in Daniël 3:16-18 opgeteken is, het verseker dat hulle in die vuuroond gegooi is. Onder normale omstandighede was daar geen kans vir ontsnapping nie. "Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u 'n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie."
 
En God het hulle gered! Ons moet egter nie verskeie sleutelaspekte in hierdie weergawe miskyk nie. Daar was 'n vierde man saam met hulle in die vuur. God het hulle nie net uit die vuur gered nie, maar Hy was saam met hulle in die vuur. Hy het nie toegelaat dat self een haar op hulle koppe geskroei het nie.
 
Dit is ook baie belangrik om daarop te let dat slegs die toue waarmee hulle vasgebind was het weggebrand, andersins was hulle ongeskonde. Tog, het die goddelose manne wat hulle in die eerste plek in die vuur gegooi het, omgekom. Dieselfde vuur, maar 'n ander uitkoms.
 
Verder sien ons dat die vuuroond sewe keer warmder gemaak is as gewoonlik, wat veronderstel was om hulle lot te verseker. Instede daarvan het dit God se volmaakte tydsberekening en verlossing geopenbaar. 'n Sigbare manifestasie van God se heerlikheid word hier vertoon.
 
Voel jy miskien of jy deur die smeltkroes van ellende getoets word? Moet jy gered word van die swaar las wat dit op jou plaas? Dan behoort die oortuiging, geloof en dapperheid van hierdie drie manne jou te bemoedig. Die volgende aantal dae gaan ons ook 'n aantal ander Ou Testamentiese helde bespreek.
 
Hou aan om te vertrou al lyk dit asof alles teen jou is. God spesialiseer steeds in die onmoontlike. Hy is steeds in die doodsveragtende besigheid. Wie weet hoe Hy jou situasie gaan omdraai.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons nooit vergeet of verlaat nie – selfs in tye van beproewings wat ons soms moet verduur. Amen.
Next article: In die gesin van God ingeënt - 20 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.