Vreemde vuur - 26 Oktober 2026
Imogen Campbell
Vuur het van voor die Here uitgegaan en hulle verteer, sodat hulle daar voor die Here gesterf het.Levitikus 10:2, 2020-vertaling
Het jy al gehoor van die gruwelike manier hoe Mary Reeser gesterf het? Op 2 Julie 1951 is Mary in haar woonstel in St Petersburg in Florida verkool – sonder dat 'n duidelike ontstekingsbron gevind kon word. Net 'n paar liggaamsdele het behoue gebly, onder andere 'n voet in 'n satyn pantoffel. Die woonstel en die inhoud het egter baie min skade gely.
Daar is daarna verwys as spontane menslike verbranding. Die wetenskaplike term, die sogenaamde lamppit-effek, word deesdae deur forensiese wetenskaplikes gebruik om hierdie verskynsel te verklaar. Sowaar baie vreemd!
Nog vreemder is die verhaal van Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu. Hulle is toegelaat om saam met Moses, Aäron en 70 van die oudstes van Israel die berg Sinai uit te klim en daar het hulle "die God van Israel gesien. Onder sy voete was dit soos 'n plaveisel van lasuursteen, so helder soos die hemelruim self. Teen hierdie vernames van die Israeliete het God sy hand nie uitgesteek nie. Hulle het God aanskou en toe geëet en gedrink." (Eksodus 24:10-11)
"Onvergeetlik" is nouliks die regte woord om dit te beskryf. Levitikus 9:24 beskryf hoe die brandoffer aan die Here gewy is en daar toe 'n vuur voor die Here uitgegaan het wat dit verteer het. Israel het gejuig en voor die Here neergeval, maar dit het nie lank gehou nie.
Nie lank daarna nie het die twee broers hulle vuurpanne geneem, kole daarin gesit, wierook daarop uitgegiet en hierdie ongeoorloofde vuur voor die Here gebring. Hierdie "vreemde vuur" het tot hulle dood gelei.
God het dit duidelik gestel dat diegene wat tot Hom nader moet erken dat Hy heilig is, veral in die teenwoordigheid van die volk. Met sy heiligheid kan daar nie gespot word nie. Hy is na alles 'n verterende vuur.
Die serafs, hemelse wesens, fassineer my. Hulle naam is afgelei van die Hebreeuse woord, "saraph" wat "om te brand" beteken. In Jesaja se visioen (Jesaja 6:1-13) roep hulle voortdurend “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte!" Daniël beskryf later 'n rivier van vuur wat voor Hom wat ewig lewe, vloei.
Het Aäron se seuns te vertroud geraak met die dinge van God en om daardie rede fouteer? Genadiglik is God toeganklik. Daar is 'n manier om tot Hom te nader, maar op sy voorwaardes en nie op ons s'n nie. Uit die lewens van hierdie twee leer ons letterlik om nie met vuur te speel nie.
Ek is opnuut getref deur Jesus se woorde: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe ..." (Johannes 14:6) Prys Jesus dat Hy die weg na die Vader vir ons oopgemaak het.
Hoe dankbaar is ek en jy vir dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het? Hoeveel tyd bestee ons om oor heiligheid na te dink – en wat dit beteken om afgesonder te wees?
Gebed: Vader, help ons om U te gehoorsaam, selfs in sake wat ons as onbenullig beskou. Help ons om in eerbeid en ontsag tot U te nader. Amen