God is by ons in donker seisoene - 9 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. Psalm 23:4, 1983-vertaling
Het jy al ooit van Barnard 68 gehoor? Dit is een van die merkwaardigste donker kolle in die hemelruim. Wanneer sterrekundiges daarna kyk, sien hulle iets wat amper soos ’n swart gat tussen duisende helder sterre lyk.
Barnard 68 is egter nie werklik ’n “swart gat” nie. Dit is ’n digte, donker molekulêre wolk van stof en gas wat die lig van die sterre daaragter blokkeer. Dit is só koud en donker dat ons nie met gewone sigbare lig kan sien wat binne-in aangaan nie. Hier is die interessante deel: Dit is juis binne hierdie koue, geïsoleerde spasie in die hemelruim waar nuwe sterre gebore word!
Ons almal het al ’n Barnard 68-seisoen beleef. Daardie donker tye wanneer vrees ons wil oorweldig en ons wonder of ons ooit weer die lig gaan sien. Dalk is dit onsekerheid by die werk. Dalk lê jy snags wakker en wonder hoe jy jou rekeninge gaan betaal. Dalk is dit die hartseer ná die dood van ’n geliefde, ’n gebroke verhouding, siekte of die pyn van eensaamheid.
In sulke oomblikke voel dit asof ’n donker wolk oor jou lewe kom hang. Dit absorbeer ons vreugde, steel ons vrede en maak dit moeilik om enige lig raak te sien. Juis dan het Dawid se woorde in Psalm 23:4 soveel dieper betekenis: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.”
Dawid sê nie dat ons nooit deur donker valleie sal gaan nie. Hy sê dat ons nie alleen daardeur hoef te gaan nie. Dit is soms juis wanneer alles rondom ons donker word dat ons God se karakter op ’n dieper manier leer ken. Wanneer ons ontdek dat Hy ons Vrede is te midde van onsekerheid, ons Voorsiener wanneer ons nie uitkoms sien nie en ons Trooster wanneer ons harte stukkend is.
Mag jy weet dat God jou nooit alleen laat nie. Selfs in die dal van doodskaduwee is Hy by jou.
Gebed: Vader God, baie dankie dat U beloof om in elke donker seisoen by my te wees. Gee my die geloof om te weet dat U steeds aan die werk is, selfs wanneer ek dit nie kan sien nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.