God is ons Lig! - 11 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 1 Johannes 1:5b, 1983-vertaling
Aan die rotsagtige kus van Skotland lê ’n klein vissersdorpie met ’n vuurtoring wat reeds vir jare lank ’n belangrike rol speel om skepe veilig na die hawe te lei.
Op ’n dag het ’n geweldige storm die dorpie getref. Saam met die sterk winde en reusegolwe wat teen die rotse breek, het die storm die kragtoevoer na die dorp onderbreek. Alles was in duisternis gehul – selfs die vuurtoring se lig.
Tom, die 82-jarige oudvuurtoringwagter, het onmiddellik besef dat sonder die vuurtoring se lig, bote op die rotse kon loop in die storm. Om die probleem op te los het hy ’n helder flitslig gegryp, homself na die vuurtoring gehaas waar hy teen die trappe uitgeklim het. Bó het hy die flitslig aan sy lyf vasgemaak en vir die volgende 18 ure lank sy lig oor die donker see geskyn. Ten minste twee visserbote het later vertel dat as dit nie vir Tom se flitslig was nie, hulle waarskynlik teen die rotse sou gevaar het.
Tom se verhaal herinner my aan die woorde in 1 Johannes 1:5: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” Ook in Johannes 8:12 sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Soms voel ons lewens stormagtig – soos hierdie storm in Skotland. Die winde woed en die golwe slaan teen ons terwyl ons onseker is hoe ons die uitdagings gaan oorkom. Hier is die goeie nuus: God is nie ’n flou flitsliggie wat iewers in die verte skyn nie. Hy is ons ewige Lig wat nooit uitgedoof kan word nie. Hy is die Een wat ons vertroos, bemagtig, versterk en met wysheid vul wanneer ons dit die nodigste het.
Mag ons vandag ons oë op Hom hou. En mag ons, net soos Tom met sy flitslig, bereid wees om God se lig te laat skyn vir die mense om ons wat vandag dalk in die donker rondtas.
Gebed: Vader God, baie dankie vir u lig in my lewe. Gebruik my vandag om ook lig vir die mense rondom my te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.