God genees ons wonde - 13 November 2026
Benescke Janse van Resnburg
Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Efesiërs 6:10, 1983-vertaling
In China het ’n 82-jarige vrou, bekend as mevrou Zhang, ’n tyd gelede haar familielede gevra om vir haar paddas te vang. Sy het nie verduidelik waarvoor sy dit wou gebruik nie. Dit is eers toe sy erge maagpyn ontwikkel en in die hospitaal opgeneem word, dat sy met die waarheid na vore gekom het.
Mevrou Zhang het gesukkel met erge rugpyn weens ’n werwel wat geskuif het. Sy het gehoor dat paddas dit kon help verlig en daarom agt lewendige paddas ingesluk! Die paddas het egter ’n parasitiese infeksie veroorsaak, en mevrou Zhang moes in die hospitaal opgeneem word.
Hierdie verhaal klink dalk absurd, maar dit het my laat dink aan hoe ons soms optree wanneer ons emosionele pyn ervaar. Ons gryp na enigiets wat ons glo verligting kan bied: ongesonde verhoudings, alkohol of selfs ander maniere om die pyn te verdoof. Soms maak dit waarna ons gryp ons uiteindelik net seerder.
Dalk sit jy met fisiese pyn. Dalk worstel jy met angs, depressie of hartseer uit die verlede. God sien alles en Hy vra van jou om nie te probeer om die pyn alleen te dra nie. Luister weer na die woorde in Efesiërs 6:10: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.”
God kan genees en herstel. Soms doen hy dit dadelik. Soms stuur Hy mense oor ons pad om ons in die proses te help. Deur alles kan ons na Hom nader vir krag.
Vir vandag, kom ons sit die “paddas” neer en kies om God te soek. Hy vul ons met wysheid en krag.
Gebed: Vader God, U ken ons pyn en die dinge waarna ons gryp om verligting te vind. Vergewe ons waar ons aan dinge vasklou wat ons skade aandoen. Bring genesing en herstel volgens u wysheid en wil. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen