God lei en voorsien vir ons - 17 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie. Jesaja 58:11, 1983-vertaling
Kom ons kyk vandag stuk vir stuk na hierdie teksgedeelte.
Die Here sal jou altyddeur lei. Sy leiding is daar in elke situasie. Nie net vir vandag nie, maar ook vir die toekoms. En nie net in sekere situasies nie, maar in alle omstandighede. Hy sal jou altyddeur lei. Hierdie belofte geld ook vir jou geliefdes.
Die Here sal jou altyddeur lei. Selfs in dor streke sal Hy voorsien. God belowe nie dat ons nooit deur droë tye sal gaan nie, maar Hy belowe dat Hy selfs in hierdie moeilike seisoene dáár is. Hy belowe om vir ons te gee wat ons nodig het om deur hierdie seisoene te kom. Hy stuur die regte mense om ons arms omhoog te hou, en Hy voorsien selfs op praktiese maniere wanneer ons Hom vertrou. En die interessante is dat dit soms juis in die dor streke van die lewe is dat ons Hom die duidelikste beleef.
Die Here sal jou altyddeur lei. Selfs in dor streke sal Hy voorsien. Hy sal jou sterk maak. Wanneer ons voel ons kan nie meer nie, is Hy daar om ons op te tel en te dra. Wanneer ons swak is, is Hy sterk. Ons moet net kies om ons krag in Hom te vind en nie in mense of dinge nie.
Die Here sal jou altyddeur lei. Selfs in dor streke sal Hy voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water. Wat ’n pragtige beeld! ’n Tuin is ’n plek van rus en herstel. God belowe dat ons só sal kan wees. Hy herstel ons en maak van ons ’n tuin waar selfs ander rondom ons rus en nuwe lewe kan vind. En ek hou van die woord volop – nie net genoeg nie, maar meer as genoeg.
Die Here sal jou altyddeur lei. Selfs in dor streke sal Hy voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie. In God het ons genoeg, want Hy ís die fontein van lewe. Wanneer ons by Hom drink, word ons nie weer dors nie. En dan kan ons ook ’n fontein word waaruit ander kan drink, omdat ons instrumente in sy hand is.
Lees dit weer stadig: “Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”
Gebed: Vader God, baie dankie dat ek vandag kan weet dat U my altyddeur sal lei – selfs in dor streke. Maak my asseblief sterk wanneer ek swak voel en voorsien in my behoeftes. Vul my opnuut met u lewende water, veral wanneer dit voel asof alles in my lewe opgedroog het. Maak my ook ’n bron van hoop en bemoediging vir ander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.