God het die laaste sê - 23 November 2016
Benescke Janse van Rensburg
Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie ... Jesaja 54:17a, 1983-vertaling
Het jy al gehoor van die konsep "plot armour"? Dit is wanneer ’n karakter in ’n fliek of reeks eenvoudig net nie kan doodgaan nie. Dink byvoorbeeld aan Bruce Willis in die "Die Hard"-flieks of Tom Cruise in "Mission: Impossible". Hulle kan van die hoogste gebou afval of in ’n motor teen ’n berghang afrol, maar een ding is seker: Hulle bly leef! Dit is "plot armour".
God het elkeen van ons geken nog voordat ons gebore is. In Psalm 139:16 lees ons dat Hy reeds van al ons lewensdae geweet het voordat ons gebore is.
Wanneer ons dan die woorde in Jesaja 54:17 lees: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie”, herinner dit ons daaraan dat God steeds in beheer is, selfs wanneer ons omstandighede buite beheer voel.
Luister hoe die teksvers verder lui: “elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.”
Mense kan teen jou draai. Hulle kan probeer om jou seer te maak, jou naam skade te berokken of jou onder te kry. Dit beteken egter nie dat hulle die laaste sê oor jou lewe het nie. God sien raak wat gebeur. Hy bly getrou en Hy laat ons nie aan ons lot oor nie.
Dit beteken natuurlik nie dat ons nooit deur moeilike tye sal gaan nie. Anders as rolprenthelde met "plot armour", is ons nie onaantasbaar nie. Ons beleef ook teleurstelling, pyn en verlies. Maar ons het iets veel groter om aan vas te hou: God se onwrikbare liefde – en sy vermoë om in elke situasie die laaste sê te hê. In Romeine 8:28 lees ons dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.
Mag dit jou vandag bemoedig. Selfs wanneer dit voel asof jy, soos Bruce Willis of Tom Cruise, teen ’n berghang afrol en alles om jou uitmekaar val, kan jy vashou aan hierdie waarheid: Jy is nie buite God se bereik nie. Hy het jou nie vergeet nie. En Hy sal jou nie los nie.
Gebed: Vader God, baie dankie dat ek my lewe in u hande kan oorgee en op U kan vertrou. Dankie dat U my sien, selfs wanneer niemand anders raaksien waardeur ek gaan nie. Beskerm asseblief my hart wanneer ek oorweldig voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.