God is my helper - 26 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
"Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?" Hebreërs 13:6b, 1983-vertaling
Tussen 2014 en 2016 het ’n kaartjieverkoper by die Shinjuku Gyoen-tuine in Tokio, Japan, die besienswaardigheid oor ’n tydperk van sowat twee en ’n half jaar miljoene rande gekos.
Hoekom? Nadat ’n buitelandse toeris jare tevore op hom geskree het, was hy só bang om weer met buitelanders te kommunikeer dat hy hulle eenvoudig gratis ingelaat het!
’n Slegte ervaring, ’n mislukking of ’n teleurstelling uit die verlede kan ons maklik met vrees vul. Hierdie vrees beroof ons van selfvertroue en maak ons passief.
Ons waag dit byvoorbeeld nie om ’n besigheid te begin, vir ’n nuwe pos aansoek te doen of ’n nuwe verhouding ’n kans te gee nie, omdat ons vroeër misluk of seergekry het.
Vrees hou ons in ons gemaksone, maar eintlik hou dit ons in ’n tronk! Wat ons egter nie altyd besef nie, is dat hierdie vrees ons ook kan beroof van geleenthede om God se goedheid, krag en guns in ons lewens te beleef.
In 2 Timoteus 1:7 lees ons: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” En in Spreuke 3:23-26 word ons daaraan herinner dat ons met vertroue ons pad kan stap, rustig kan slaap en nie in vrees vir die toekoms hoef te leef nie, “want die Here sal jou beskerm”. Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:6).
God is ons Beskermer. Mag ons Hom vertrou om ons te help om ons vrese te oorkom en ons met krag, liefde en selfbeheersing te vul. Kom ons waag dit om uit die boot te klim en op die water na Jesus toe te stap. Sy oë is op ons gerig en sy hand is gereed om ons vas te gryp wanneer ons begin sink.
Gebed: Vader God, baie dankie dat ek my hulp in U kan vind. Help my asseblief om nie bang te wees vir mense of toe te laat dat slegte ervarings uit my verlede my terughou nie. Gee my die moed en selfvertroue om nuwe geleenthede aan te gryp, met die wete dat U by my is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.