Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 30 November 2012

In die lig van advent

Hennie Symington

                        Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.

                        Hy is die oorsprong daarvan,

                        Hy is die Eerste,

                        die Een wat uit die dood opgestaan het,

                        sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

                        God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

                        en om deur Hom alles

                        met Homself te versoen.

                        Deur die bloed van sy Seun aan die kruis

                        het Hy die vrede herstel,

                        deur Hom het Hy alles op die aarde

en in die hemel met Homself versoen. Kolossense 1:18-20

Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. 1 Timoteus 1:17

Hierdie komende Sondag vier ons die begin van Advent. Ons kan nou begin om die slapies af te tel na Kersfees. Die ster van Advent is ongetwyfeld Christus. Gedurende die jaar is ons so op onsself en ons eie gesinne gerig en so besig met ons eie probleme dat hierdie maand ons ʼn geleentheid bied om op die aanloop tot die kersgebeure te fokus.

Te midde van talle redders en messiase wat deur die jare gekom en weer verdwyn het, staan Jesus nie as ʼn blote voetnoot tot een of ander filosofie of as ʼn ontoeganklike stukkie etiek wat slegs ʼn klein groepie mense verstaan nie. Hy verskyn ook nie as een of ander sjaman of heilige wat beloof om jou nader aan God te bring of om op ʼn reis van selfontdekking te gaan nie.

Wie is Hy? Hy is die Goddelike wat reeds teenwoordig was sedert die begin van tyd en ruimte. Anders as die mens is Hy nie na die beeld van God geskape nie maar is God self.

Hy is die Skepper want “deur Hom en tot Hom het alles tot stand gekom”.

Hy is die “hoof” van sy kerk op aarde want Hy was die eerste om die dood te oorwin. Maar meer nog, God het gekies om in Hom teenwoordig te wees in al sy mag en krag om Hom sigbaar vir ons te maak.

Ons het nie te doen met ʼn blote afskynsel van God, of ʼn hulpelose kind in ʼn krip nie.Christus staan as Pantokrator – heerser van die heelal. Die diepste waarheid oor Hom is egter dat Hy Hom kwesbaar gestel het om in ons harte gebore te word.

Gebed:

Here, U het as heerser van die heelal in alle eenvoud na ons toe gekom omdat U ons so lief gehad het. Ons eer U en wy ons opnuut aan U toe.

Amen

Previous article: Vers n dag - 3 Desember 2012 Prev Next article: Vers n dag - 29 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.