Vers n dag - 4 Desember 2012
“Happy Birthday to me!”
Hennie Symington
Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is. Ps. 104:33
Die uwe (dis nou ek) verjaar vandag op vers ’n dag vir die derde keer (ouderdom: onbelangrik). Vandag word julle almal uitgenooi om julle diëte oorboord te gooi en saam met my nog ʼn jaar te vier. Ja, ek is oor ʼn verjaarsdag soos ʼn baba oor ʼn fopspeen, ʼn hond oor ʼn bal of ʼn kat oor muisvleis En aangesien julle nie vir my ʼn geskenk kan gee nie, gee ek sommer vir julle een: ʼn resep vir geluk.
Gelukspastei:
Begin met een vars dag soos dit uit God se spens uitkom sonder haat, jaloesie of gister se bitterheid.
Metode:
Vul dit met twaalf dele geloof, elf dele geduld, tien dele moed, nege dele werk, agt dele hoop, sewe dele getrouheid, ses dele vrygewigheid, vyf dele vriendelikheid, en vier dele rus (dis soos sout op die slaai), drie dele gebed, twee knippies nadenke, en een deeltjie vasberadenheid. Voeg by ʼn knippie geestigheid, ʼn skeutjie pret, ʼn halwe knippie lawwigheid en ʼn opgehoopte koppie humor. Bak heeldag by ʼn gesellige temperatuur, versier met ʼn glimlag en vrolikheid en siedaar! ʼn Gelukkige dag.
Net ʼn klein waarskuwinkie! As ander jou verjaarsdag onthou, maar jy hulle sʼn vergeet, het jy die resep verkeerd. Dit vat so min van jou om ʼn verjaarsdagkalender langs die telefoon (of op jou selfoon) te hou en iemand se dag te maak deur hulle geluk te wens.
Gebed
Dankie Heer vir soveel blye dae en dat u ons deur baie jare van vreugde en pyn steeds op u hande dra.