Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Geanker In Hom: Versorg deur die Tuinier - 11 Februarie 2026

Lauren Appolis
 
Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Johannes 15:2, 1983-vertaling
 
Daar is 'n boom in ons tuin wat die laaste ruk nie goed vaar nie. Sommige van sy blare en takke het verdroog en die algemene voorkoms is 'n duidelike bewys dat iets verkeerd is. My man het alles moontlik probeer om dit te herstel, insluitend verskeie soorte plantvoedsel.
 
Tydens 'n besoek het my pa – 'n ywerige en gesoute tuinier – verduidelik dat alhoewel behandeling mag help, ons uiteindelik die dooie takke sal moet afsny. Daar was so baie droeë takke dat die afsny daarvan die boom heeltemal misvorm en eerlikwaar, baie lelik sou laat lyk. Ek was skepties. Sal die "medisyne" wat ons gee nie die hele boom gesond maak nie?
 
My pa het verduidelik: "Al die dooie takke steel steeds van die voedingstowwe wat die boom oor het – insluitend alles wat julle gee om die boom te help om weer te floreer."
 
Ek kon nie help om te dink hoe waar dit is van ons eie lewens nie, presies soos Jesus dit in Johannes 15 beskryf. Ons is geroep om in die ware wingerdstok te bly sodat ons kan vrug dra. Tog is daar tye wat ons God moet toelaat om dit wat nie meer goed is nie af te sny – dinge wat ons beroof van al die voeding wat ons van Hom ontvang – wat ons blydskap, vrede en ons vermoë om sy stem te hoor, steel.
 
Hierdie Bybelgedeelte herinner ons daaraan dat daar tye is wat ons gesnoei moet word, sodat ons beter kan groei. Sulke tye behels dikwels gehoorsaamheid wat ongemaklik of onbekend voel.
 
Ek was nie gelukkig oor die afsny van die dooie takke nie. Die boom staan voor ons huis en ek was bekommerd oor hoe dit sou lyk – oneweredig en kaal. Vir 'n oomblik het dit makliker gevoel om die dooie takke net so te los sodat dit kon lyk asof die hele boom nog daar is. Maar deur dit te doen, sou dit wat reeds dood was voortgaan om dit wat nog kon groei te benadeel.
 
Laat ons in Jesus, die ware wingerdstok, bly. Kom ons laat die Tuinier toe om enigiets af te sny wat dit wat Hy in ons wil doen, belemmer. En kom ons gee ons oor – met blydskap – aan die snoeitye, met vertroue dat ons hemelse Vader ons sal laat groei tot 'n beter weerspieëling van sy skoonheid en heerlikheid.
 

Gebed: Hemelse Vader, help my om U in die snoeitye te vertrou. Gee my die moed om dit wat nie meer lewe het nie, te laat gaan. Gee dat ek in U sal bly sodat U my kan vorm en ek beter vrug kan dra. Amen

Next article: Anchored in Him: Tended by the Gardener - 11 February 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.