Xanthe Hancox

Op die derde dag was daar 'n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” … Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.  Johannes 2:1-3,11

Dit wil voorkom asof Jesus van kos gehou het. Daar is baie gedeeltes in die Nuwe Testament wat maaltye en samekomste beskryf, ontbyt en aandete, partytjies en feesvieringe. Sy eerste wonderwerk het by 'n partytjie plaasgevind – die bruilof in Kana waar Hy water in wyn verander het.

In hierdie verhaal in Johannes 2 het Jesus 'n potensiële sosiale ramp voorkom. Die families van die bruid en bruidegom het Jesus seker van harte bedank dat Hy gewone water geneem en dit in uitsonderlike wyn verander het en sodoende hulle kinders se bruilofsfees van 'n ramp gered het.

Daar is egter baie meer om te vier as net 'n suksesvolle partytjie. Johannes sê hierdie eerste wonderteken openbaar Jesus se heerlikheid. So wat presies is nou eintlik die heerlikheid hier? Nie die wyn nie, maar die identiteit van die wynmaker. In Johannes 1:14 vertel Johannes ons dat Jesus die Woord is wat mens geword en onder ons kom woon het en dat ons sy heerlikheid gesien het. Dit is ongelooflik dat God self deel was van menslike vieringe en feeste, en dat Hy hierdie menslike aktiwiteite en verhoudings met sy goddelike teenwoordigheid geseën het.

Ons behoort dit te vier wanneer ons as God se kinders sy werk en teenwoordigheid in ons lewe herken, en Jesus is die beste Persoon om ons te leer hoe om dit te doen. By elke troue, verjaarsdagpartytjie of Saterdagbraai wat jy bywoon, vier Jesus se teenwoordigheid. Dank God dat in ons alledaagse lewe, sy heerlikheid tussen ons leef en werk.

Gebed: Almagtige God, u heerlikheid lyk soms ver weg en buite ons bereik. En tog het U ons so lief dat U u Seun gestuur het. Gee dat ons u teenwoordigheid in Christus sal raaksien en U daarvoor sal loof en prys. Amen