Xanthe Hancox

“Vat koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt, sit dit in 'n skottel en maak vir jou kos daarvan. Jy moet daarvan eet so lank jy op jou sy lê, drie honderd en negentig dae lank. Die kos wat jy elke dag moet eet, moet twee honderd en dertig gram weeg, en jy moet dit met tussenposes eet. Esegiël 4:9-10

'n Vriend van die VSA vertel my onlangs van die nuutste kosneiging: Esegiël 4:9-brood. 'n Maatskappy met die naam Food for Life bak 'n brood gebaseer op vandag se vers. Hulle beweer dat hulle brood ongeëwenaarde, suiwer voedingswaarde bevat asook heerlike geure. Ek het dit nog nie self probeer nie, maar ek twyfel nie dat enigiets met daardie hoeveelheid heel graan net goed vir jou kan wees nie.

Die Ou Testamentiese storie oor hierdie brood is egter nie so positief as wat Food for Life se bemarkingsveldtog jou wil laat glo nie. Esegiël het in 'n donker tydperk in Israel se geskiedenis geleef. Gedurende sy loopbaan het die dreigende Babelse inval 'n realiteit geword en die profeet was die draer van slegte nuus.

Esegiël se eerste profetiese stellings was nie in woorde nie. God het hom 'n aantal aksies gegee om uit te voer wat die inwoners van Jerusalem bewus moes maak van die Babelse inval en die beleg van die stad.

Een van hierdie opdragte was om vir lang tye op sy sy te lê en om so die toestande tydens die beleg te weerspieël. En dit is waar die brood ter sprake kom: in tye van gebrek was dit die gewoonte om verskeie growwe graansoorte (boontjies, lensies, sorghum en spelt) te meng met fyner graansoorte (koring en gars) wat nie volop beskikbaar was nie om die voorrade langer te laat hou.

Hierdie mengsel sou 'n growwe smaaklose brood lewer (ek vermoed die mense by Food for Life het die resep so 'n bietjie verfyn), en dit moes die profeet se kos vir 390 dae wees. Esegiël wat daar op sy sy lê en sy kos eet, het die mense voortdurend daaraan herinner dat Jerusalem sou val en die inwoners net hulleself daarvoor te blameer het. Éerder as 'n simbool van oorvloed, verteenwoordig hierdie brood God se oordeel. Hulle sondes het hulle ingehaal.

Gebed:  Here, ons dank U vir Esegiël se voorbeeld en vir die gawe van oortuiging. Ons bely vandag nog ons sonde en in u groot genade vergewe ons deur die offer van u Seun. Amen