Deur Benescke Janse van Rensburg

Wetenskaplikes by Japan se Keio-universiteit het onlangs 'n robotagtige meganiese stert, Argue, bekend gestel. Die stert werk soos 'n pendulum en bejaardes wat dit dra en hul balans verloor, word regop getrek om hul ewewig te herwin en nie op hul gesigte te beland nie.

In ons eie lewens tref uitdagings ons soms wat dit laat voel asof ons struikel en grond toe val - nuus van 'n buite-egtelike verhouding in jou huwelik, die diagnose van 'n gevreesde siekte, skuld wat jou wil oorweldig, slegte nuus by die werk of 'n uitdaging met een van jou kinders. In dié uitdagende tye het ons nodig om onsself te herinner dat  Jesus ons nie as weeskinders agtergelaat het nie. Hy het weggegaan sodat Hy vir ons die Heilige Gees kon stuur om ons op te trek en met wysheid te vul wanneer ons balans wil verloor.

Hier is vyf beloftes waaraan ons opnuut kan vashou in moeilike tye:

  • Jesaja 40:29: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.”
  • Psalm 46:1-3: “God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.”
  • Psalm 138:3: “Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee.
  • 2 Korintiërs 12:9: Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
  • Jesaja 30:15: “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.”

Wat sou gebeur indien 'n bejaarde persoon met 'n meganiese stert die krag teëwerk wat hom of haar wil regop trek? So 'n persoon sal bes moontlik plat op die grond val. Net so het ons ook nodig om in moeilike tye opnuut oor te gee, stil te word en te vertrou dat God ons sal optrek. Wanneer ons swak is, is Hy sterk. Hy bly in beheer. Kom ons gee Hom 'n kans om ons te versterk. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my staande hou wanneer dit voel of die storms in my lewe my wil oorweldig. Help my asseblief om my geloof en vertroue opnuut in U te plaas en oor te gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk gerus na die robotagtige stert by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook
  • Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke