Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit is die begin van ’n nuwe week. Vir sommige word hierdie week met entoesiasme tegemoet gegaan – ’n projek begin eindelik na maande se beplanning, ’n baba word dalk gebore, dae word afgetel tot die troue van jou drome. Aan die ander kant is daar diegene vir wie hierdie week met ’n swaar hart tegemoet gestap word – groot lewensveranderende besluite moet geneem word, jy moet dalk later die week in die egskeidingshof gaan staan of ’n geliefde begrawe.

Die kontrasterende weke vorm ons lewe, met een konstante – God. Hy is daar in die goeie, maar ook die uitdagende tye.

In Psalm 127:1 lees ons: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.” Ook in Spreuke 3:5-6 staan geskryf: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Mag hierdie vir jou ’n goeie week wees te midde van seer, stresvolle uitdagings omdat ons weet dat ons die Een aanbid wie die toekoms in sy hande hou. Mag ons onthou dat Hy steeds in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hom lief het. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my week aan U kan opdra. Lei my asseblief deur U Heilige Gees om elke besluit, projek en uitdaging met wysheid aan te pak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.