Neville Turley

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Psalm 34:19

'n Jonggetroude vroutjie word met kanker gediagnoseer en binne maande is sy oorlede. In trane vra sy op 'n keer vir 'n predikantvriend: "Ek is tog 'n goeie Christen, hoekom gebeur dit nou met my?"

Niks laat ons geloof meer krities bevraagteken as onverdiende lyding nie en niks is moeiliker om te rasionaliseer nie. Nie een van ons kan dit bevredigend beantwoord nie.

Lyding weens die gevolge van ons eie dade is makliker om te aanvaar as lyding weens sake buite ons beheer.

Jesus Christus is die beste voorbeeld van iemand wat onverdiend gely het. Baie Christene ly vandag nog en word vervolg ter wille van sy Naam. Petrus het 'n spesiale woord van bemoediging vir hulle: "Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid." (1 Petrus 4:12-13)

Die oorsaak van onverdiende lyding kom uit die paradys toe Adam en Eva toegegee het aan versoeking wat daartoe gelei het dat sonde, lyding en dood deel geword het van die mens se bestaan. Niks en niemand word van hierdie erfenis uitgesluit nie. Slegte dinge gebeur met beide gelowiges en ongelowiges.

Maar ons as gelowiges, mede-erfgename met die Seun, het hoop omdat God ons liefhet.  "Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê." (Romeine 8:18-21)

Lyding bring ons soms nader aan God en vir diegene wat eendag deel aan die heerlikheid van God sal hê, is daar geen beter plek om te wees nie.

Gebed: Ewige God gee dat ons, saam met die skepping, deel van u heerlikheid sal word. Ons vra dit in die Naam van u Seun wat saam met U en die Heilige Gees regeer, nou en vir altyd. Amen