Deur Benescke Janse van Rensburg

Nou en dan raak ’n onderhoud my diep tydens my radioprogram. Die een met Thinus Campher van Hagar’s Choice, a place of safety, was verseker só een. As gesin sien hulle om na babas wat verlate gevind is totdat die kinders aangeneem kan word. Ek deel graag een van sy getuienisse waar hulle God sien werk het:

Thinus: “As gesin is ons passievol daaroor om kinders wat ons inneem veilig en spesiaal te laat voel. Ons neem byvoorbeeld foto’s van elke mylpaal wat die baba bereik sodat die aanneemouers wegstap met ’n hele fotoalbum. Ons was al baie verstom oor hoe betrokke God tydens die paring van aanneemkinders en aanneemouers is.

Een só geval is van ’n buitelandse paartjie wat ná 12 jaar se sukkel om swanger te word, besluit het om ’n babadogtertjie aan te neem. ’n Rukkie voor die aanneemdatum, het die dogtertjie verjaar. My vrou, Barbara het ’n koekgebak en besluit om dit met macaroons, eerder as die tipiese babaversierings, te versier. Op die dogtertjie se verjaarsdag wou sy niks van die koek eet nie, maar sy het wel vyf macaroons verorber.

Ons het ook vir die dogtertjie ’n spesiale rokkie gaan koop vir die aanneemdag. Met die ken-mekaar sessie voordat ons die baba uitbring, gesels ek en Barbara gewoonlik vir ’n rukkie met die aanneemouers. Verbaas het ons uitgevind dat die macaroons die aanneemma se gunsteling versnapering is!

Met die uitbring van die dogtertjie, het die aanneemma vreeslik gehuil. Ons het gedink dit is seker maar net vir haar ’n groot oomblik was. Toe die gemoedere bedaar, het sy egter vertel dat gedurende die 12 jaar se probeer en bid om swanger te word, daar moeilike oomblikke was. Met elke miskraam was sy geweldig teleurgesteld. Om haarself op te beur het sy vir haarself ’n bos proteas bestel. Niemand van ons het dit geweet nie, maar God het, want toe die dogtertjie uitgestap kom, het sy ’n rokkie gedra – oortrek met proteas! God is werklik betrokke in die detail van ons lewens!”

Thinus is reg. God is DÁÁR en betrokke in die DETAIL van ons lewens. In Psalm 37:14 lees ons: “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.” Die Engelse vertaling lees: “The Lord directs the steps of the godly. He delights in every detail of their lives.” Ook in Psalm 139:16-8 lees ons: U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem –hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”  

God is betrokke in die DETAIL van elkeen van ons se lewens. Mag ons moed hou in die moeilike tye wetende dat God meer gedagtes oor ons elkeen het as wat daar sand in die see is. Sterkte.  

Vader God baie dankie dat U in U grootheid steeds ag slaan in die detail van ons lewens. Help my asseblief om moed te hou in die moeilike tye, wetende dat U besig is om te werk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “D”: Deurbrake, Drie-enig, Dáár, Deernis, Die Weg en Waarheid.
  • LETTER E: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “E”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om lewer kommentaar hier: