Deur Benescke Janse van Rensburg

Met ’n natgeswete handpalm van spanning het Joshua, Moses se stapstok vasgevat. Die oomblik het aangebreek. Hy moes as die nuwe leier van die volk opstaan. Hy moes voor stap. Sou hy ooit Moses se skoene kon volstaan?

Met ’n hart wat vinnig klop, het Ester die eerste tree teen die trappe op na die koning gegee. Ongenooid, maar met ’n missie. Sou sy die aand oorleef?

Met adrenalien wat deur sy are bruis, het Dawid die vyfde klippie in sy sak gesit, sy slingervel opgetel en na die reus Goliat begin aanstap. Jare alleen in die veld as skaapwagter het hom vir dié oomblik voorberei. Wat sou die uitkoms wees?

Is jy vandag waar dié drie mense eens was – onseker, gespanne, met adrenalien wat deur jou are bruis en natgeswete handpalms? Miskien is jy onseker of jy daardie nuwe posisie in die werkplek sal kan volstaan. Dalk beleef jy ’n uitdaging in ’n verhouding of jy wonder of jy deur die maand gaan kom met jou finansies. Of dalk is daar ook ’n Goliat in jou lewe wat jou verkleineer en intimideer.

Al wat Joshua, Dawid en Ester gehad het, was hul geloof in God. Luister weer na God se woorde aan Joshua in Joshua 1:9: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” Luister ook weer na Dawid se woorde aan die reus in die middel van die gevegsveld: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het (1 Samuel 17:45). Ook in Isaiah 41:10 lees ons: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

God is EMMANUEL – God met ons. Hy was by al drie hierdie mense in hul moeilikste oomblikke. Hy is ook by ons elkeen. Mag ons die week met selfvertroue tegemoet wetende dat ons nie alleen is nie. Sterkte.

Vader God baie dankie dat U my nooit verlaat of in die steek laat nie. Help om asseblief om nie paniekerig te raak nie, maar om te weet dat U met my is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “E”: Eienaar van alles; Ewige Vader; Empatie; Eerste en laaste; Ek is.
  • LETTER F: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “F”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam: