Deur Benescke Janse van Rensburg

Chanté Hinds-Moller en haar man, Jan se 18 maande oue seuntjie, Daniël het in 2009 in die plaasdam op hulle plaas in die Karoo verdrink. Hierna moes sy haar bes probeer om sterk te staan – al was dit ook net ter wille vir haar 4 maande oue seuntjie, Darius wat agtergebly het. In dié moeilike tyd, met baie vrae, het sy ’n besondere ervaring gehad dat God werklik die HOORDER van ons gebede is.

Chanté: “Ek kon nie huil voor my 4 maande oue seuntjie nie. As ek begin huil het, het hy gehuil. Al die emosie het soos ’n vulkaan binne my opgebou. Een winteroggend het ek besluit om ’n entjie alleen in die plaaspad te gaan stap. Ek moes êrens heen vlug om die huil binne my uit te kry.

“Ek het gesmag na hoop. Ek het gesmag daarna om God se stem te hoor. Ek wou Hom weer vertrou, want as ek eerlik moet wees, het die trauma rondom ons seun se verdrinking my geraak. Ons het dan só gebid vir ons kinders se beskerming – steeds het Daniël gesterf.

“’n Reënboog simboliseer vir my hoop en op daardie mooi winteroggend in die Karoo, met nie ’n wolkie in die lug nie, het ek ’n reënboog benodig. ‘In my arrogansie’ het ek net daar vir God ’n wonderwerk gevra: Ek wou ’n reënboog voor die einde van die dag sien. Ek wou weet dat Hy nog van my weet. Die dag het egter verbygegaan.

“Ek en my man was reeds in die kamer daardie aand, toe die man wat Daniël uit die water gered het, wat vir ’n rukkie by ons in die huis gebly het, aan ons kamerdeur klop. Hy het gesê dat hy vroeër die dag op die dorp was. ’n Vrou daar het vir hom gesê dat sy vir my iets wou saamstuur. Sy het in haar handsak gekrap en die enigste kaartjie wat sy kon vind vir my gestuur. Toe ek dit sien, het ek gevries. Voorop was ’n geskilderde prentjie van ’n klein plaashuisie, met ’n groot reënboog daaragter! Ek kan nie daardie oomblik beskryf nie. In my hart het ek onmiddellik geweet dat God my gebed op die grondpad gehoor het! Tot vandag nog, is hierdie vir my ’n belofte dat ons Hom kan vertrou.”

God is waarlik die HOORDER VAN GEBED. In Psalm 40:2 lees ons: Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.” Ook in Psalm 65:3 skryf die Psalmdigter: “O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!” En in Psalm 4:4 lees ons: “Die Here hoor as ek na Hom roep.”

Ons Vader hou die heelal in sy hande, tog is Hy betrokke in die detail van ons lewens. Sy begeerte is om Homself aan ons te openbaar. En sy oor is nooit te doof om te hoor nie. Kom ons praat vandag met Hom. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U hoor as ek bid. Ook dat U my kom ontmoet op die plek van my geloof. Help my asseblief vandag met (noem wat spesifiek jy op die hart het). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “H”: Heilig, Hoop, Helper, Heerser, Hoog bo almal en alles.
  • LETTER H: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “I”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam: