Deur: Benescke Janse van Rensburg

Teen laatmiddag het die bakkie langs die ryloper gestop wat met sy groot rugsak in die grondpad afstap. Dié het dadelik dankbaar vir die rygeleentheid nader gedraf en op die bak geklim voordat die bestuurder weer vertrek het.

Na ’n tydjie kyk die bestuurder van die bakkie in die tru-spieëltjie. Tot sy verbasing het die ryloper op die bakkie geklim met sy swaar pakkaas op sy rug en dit net daar gehou. Hy het gestop, sy venster oopgedraai en na die man op die bakkie geroep: “Jy kan maar die sak afhaal. Ek kan sien dit is baie swaar.” Sonder ’n oomblik te aarseling het die man geantwoord: “Meneer, eks reeds so dankbaar vir die rygeleentheid. Ek kan nie van u verwag om die swaar pakkaas ook nog te dra nie.”

Dit klink amper absurd. Die man is dan reeds op die bakkie. Tog is ons soms net soos hierdie man. Ons vergeet dat God sy Seun, Jesus Christus gestuur het om ons vry te koop en ons vreugde te kom herstel.

In Matteus 11:28-30 sê Jesus: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Ook in Nehemia 8:10 lees ons: “ . . . die blydskap in die Here — dit is julle beskutting.”

Wat dra jy saam met jou soos daai swaar pakkaas op die ryloper se rug? Bitterheid, vrees, woede, haat? Miskien ’n skuldgevoel of skaamte oor verkeerde besluite in die verlede of bekommernis oor iets in die toekoms?

God is ons JUKVERWYDERAAR. Kom ons haal dus vandag die pakkaas af. Kom ons aanvaar sy vryheid en vreugde en kom ons stap hierdie week met vrede in ons harte tegemoet! Sterkte.

Vader God baie dankie dat ek met al my laste na U kan kom. Help my asseblief om doelbewus (noem die las in jou lewe) van my rug af te haal en by U neer te sit. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “J”: Jaloerse God, Jesus, Juis.
  • LETTER K: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “K”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam: