Hennie Symington

Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Genesis 2:15-16

Om presies te weet hoe om verskillende vorms van lewe te hanteer verg geduld, daaglikse sorg sowel as 'n komplekse kennis om te weet hoe om verskillende vorms van lewe te laat gedy. Dit verg liefde om buite jouself te tree en ander se waarde hoёr as jou eie te skat. Dit verg ook moed om jou eie onkunde en onhandigheid te erken wanneer oeste misluk. Talle vind dit makliker om hulle tuine te verlaat en die rug daarop te draai. Trouens, ons het nie nodig dat God ons uit die paradys sluit nie. Ons vat sommer self die pad op soek na 'n makliker en geriefliker lewe wat nie veel van ons vereis nie.

Vir die mens om uit die tuin te stap en sy verantwoordelikheid af te skud het gelei tot 'n waterskeiding in die geskiedenis van die mensdom. Die mens se minagting van die humusof die grond waarvan hy gemaak is, het in 'n globale misoes van verlate grond, vergiftigde waters, kwynende woude en moerasse, en die verlies van talle plant- en dierespesies ontaard. Ons onvermoё om die tuiniers te wees wat God gehoop het ons sou wees, het die aarde as 'n bron van vreugde verander in 'n plek van pyn, lyding en dood. Trouens, in talle plekke het ons dit hel op aarde gemaak.

Dis tyd om die aarde te omarm

Dis tyd om ons verstand te heroriёnteer sodat ons die lewe kan proe in al sy skoonheid. Dit gebeur slegs as ons leer om saam met God, die eerste, die beste en ewige Tuinier tuin te maak.

Gebed: Here, die aarde is ons woning, tog behandel ons dit soos 'n rommelhoop. Gee dat ons tot ons sinne sal kom en hierdie kosbare geskenk van U met respek behandel. Amen