Hennie Symington

Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar ek sệ vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. Matteus 6:28b-29

Ons is as mense geskape om soos 'n tuin te groei en te bloei met elke tuin wat 'n ander prentjie voorstel. Tuine is nie dieselfde nie want bome, plante en gras lewe en groei op verskillende maniere. Verskillende tuine vereis spesiale sorg terwyl ander meer gehard is. Wanneer hulle op die korrekte manier versorg word bloei hulle op hulle eie unieke manier.

'n Tuinier wat sy sout werd is, ken die behoeftes van sy tuin. Wanneer dit die geval is, kom 'n tuin tot sy volle potensiaal. Hy maak seker dat hulle uiteindelik tot volle wasdom kom. Ongelukkig kan die klimaatsomstandighede nie beheer word nie. Die weer kan of te droog, of te nat wees. In sommige plekke is die uiterse koue en ryp of sterk winde 'n gevaar vir die plante. Ander tye is dit nodig om onkruid wat die tuin indring en gesonde plante versmoor, gereeld uit te spit.

Vra jou af? Hoe sorg ek vir my tuin?

Hoe voed ek die grond waarin my siel moet gedy? Wat maak ek met die onkruid wat my lewe kan verstrengel en versmoor? Gee ek my plante gereeld water of net wanneer ek toevallig onthou om dit te doen?

Dalk is dit tyd om 'n slag aandag aan my innerlike tuin te gee, en ontslae te raak van die talle hindernisse wat keer dat ek die tuin word wat God graag wil hệ ek moet word. Is dit nie dalk tyd om daardie onkruidjie te vervang met 'n veld vol affodile wat vrolik dans in die wind nie? Dink net wat 'n verskil 'n pragtige, gesonde geestestuin in jou lewe en in die van hulle naby aan jou wat gereeld moet koes wanneer dinge by die werk of tuis nie vlot verloop nie. Kyk net wat 'n verskil so 'n bietjie tuin skoonmaak in jou lewe en die lewens van diegene wat naby jou is kan maak.

Gebed: Here, dikwels is ons totaal onbewus van die impak wat ons op ander kan hệ deur die manier waarop ons optree. Dikwels laat ons toe dat indringerplante ons innerlike skoonheid vernietig. Gee dat ek die moeite sal doen om my persoonlike tuin gereeld op te ruim. Gee dat ek die talle pragtige blomme wat ek elke dag op my lewenspad verbyloop, sal raak sien. Verander my God, sodat ek nie sal verdroog en vergaan nie. Amen