Hennie Symington

Nie elkeen wat vir My sệ: ‘Here, Here” sal die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar die een wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Matteus 7:21

Toe het ek 'n nuwe hemel en’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.  ... Toe sệ Hy wat op die troon sit: “Kyk, ek maak alles nuut.” Openbaring 21:1,5

Wat doen jy wanneer besoekers by jou oorbly vir 'n paar dae? Natuurlik sal jy vir 'n hulle die spaarkamer opmaak, met skoon lakens en kussingslope. Jy sal sekerlik die meubels afstof en die mat stofsuig. Alles moet eksie-perfeksie wees. En hoe sou die gaste reageer as hulle sien hoe pragtig die kamer vir hulle gereed gemaak is. Hulle sou dit sekerlik waardeer. Maar wat as die huiseienaar en die gasvrou wanneer die gaste vertrek het, die kamer binnekom en chaos daar aantref. Wat as die badkamer vuil is, en die handdoeke op die vloer lệ, en die lakens gevlek en vuil is? Haar eerste reaksie sal waarskynlik wees:“Dis die laaste keer wat hierdie mense by my huis oorslaap. Nooit weer nie!”

Het jy geweet dat God ook 'n gastekamer het in die vorm van 'n paradys wat Hy vir sy gaste voorberei het? Die gaste het dit natuurlik pragtig gevind om na te kyk en daarin te woon. Maar op 'n dag verniel hulle hierdie paradys deur die reёls van die Eienaar te ignoreer. Maar wonder bo wonder, gee die eienaar hulle 'n tweede kans, op voorwaarde dat hulle die tuin versorg en oppas. Dit geld vir ons ook. Ruim jou lewe op. Maak vrede met die met wie jy in kwaai vriendskap leef en begin van voor. Probeer om meer verdraagsaam te wees en hou op om besittings na te jaag. Laastens, wees liefdevol en goed vir ander.

Gebed: Here, ons bely dat ons die paradys in 'n plek van pyn, hartseer en vernietiging omskep. Vergewe ons, Here. Ons droom almal van wanneer ons weer een met U en die skepping sal word. Ons sien uit na die dag dat U alles in almal sal wees sodat ons uiteindelik kan rus in die volmaakte tuin wat U aan ons geskenk het. Amen