Vers n dag - 1 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op
DAG 15: NUWE HOOP ... DAT GOD JOU VERLORE GELIEFDES KAN RED
Deur Benescke Janse van Rensburg
Bid jy al ’n geruime tyd vir ’n geliefde om tot inkeer te kom? Moenie moed opgee nie. God hoor jou gebede. Dít is wat Mariette Loubser en haar familie beleef het:
Mariëtte: “Tot voor my 98-jarige oupa in verlede jaar siek geword het, het hy op sy eie rondgery en hy het ’n meisie gehad wie hy gereeld teater en restaurante toe geneem het. As gesin het ons egter geweet dat my oupa nie ’n verhouding met Jesus Christus gehad het nie. My ma het van kleins af vir my gesê dat ons vir my oupa se redding moes bid en elke keer as iemand die tema met hom wou bespreek het my oupa opstandig geword en al die foute van die kerk uitgewys. Sy hart was verhard en ons het geweet net God sou dit kon verander.
Terwyl my verhouding met Jesus Christus verdiep het, het die realiteit van ’n ewigheid in die hemel en hel vir my al groter geword en ek het al dringender vir my oupa se redding begin bid.
Middel verlede jaar het my oupa siek geword. Ons het aanvanklik nie besef hoe ernstig dit was nie aangesien my oupa ’n aktiewe leefstyl gelei het en op 80-jarige ouderdom my ma steeds kon wegstap as hulle saam gaan stap het. My oupa se gesondheid het egter vinnig agteruitgegaan. As gesin het ons bymekaargekom en intens vir sy redding begin vas en bid.
Tydens my eerste kuiertjie in die hospitaal ná ons vastyd, was ek effens gespanne. Ek het al my moed bymekaargeskraap en die vraag aan my oupa gevra: “Oupa, wil oupa vir Jesus as oupa se Verlosser aanvaar?” Ek het verwag dat hy weer opstandig sou word. Dié keer het hy my egter rustig aangekyk en “ja” geantwoord. Ek was geskok en oorweldig en het saam met hom gebid.
’n Paar dae later was ek terug by die hospitaal. My oupa was besig om vinnig agteruit te gaan. Weer het ek gewaag om hom te vra: “Oupa, kan jy onthou dat ek verlede week saam met jou gebid het en dat jy Jesus as jou Verlosser aanvaar het?” Hy kon dit nie onthou nie. Ek was teleurgesteld en moes hard veg teen die twyfelgedagtes dat my oupa dit bloot gedoen het om my tevrede te stel. Met ’n glimlag het ek egter voortgegaan: “Dis niks oupa. Tog, wil oupa nou vir Jesus as Verlosser kies?” Weer het hy “ja” geantwoord en ek het vir ’n tweede keer saam met hom gebid.
Tydens my derde besoek was my oupa baie swak en hy het min gepraat. Ek wou egter seker maak dat hy nie verlore gaan nie en het dit gewaag om weer te vra: “Oupa, wil oupa vir Jesus as Verlosser aanvaar?” Waar hy in sy bed gelê het, kon ek sien dat hy al sy moed en krag bymekaargeskraap het om uit volle bors te antwoord: “Jaaaa!” Trane het oor my wange gestroom terwyl ons saam gebid het. In my hart kon ek ervaar dat hy dié keer ernstig oor sy besluit was.
Kort hierna was ek een aand by my ouerhuis toe my tannie van die hospitaal af bel om te sê dat my oupa besig is om te sterf. Ek en my ma het dadelik gebid dat God se vrede oor my oupa sou neerdaal. In my gees het ek ’n prentjie gesien van swart gedaantes wat my oupa se siel probeer steel. Meteens was daar ’n uitdrukking van skok en teleurstelling op hulle gesigte te lees. Ek het dit nie verstaan nie. Ons het egter aangehou bid vir sy beskerming en ek het verklaar dat my oupa aan Jesus Christus behoort omdat hy Hom as Verlosser aanvaar het. My oupa het kort hierna gesterf.
Daardie aand het ek vir God gevra wat die prentjie beteken het. In my hart het ek ervaar dat Hy aan my wou vrede gee oor my oupa se ewige eindbestemming. Tot aan die einde van my oupa se lewe was daar egter ’n konstante stryd tussen lig en donker vir sy siel. Die demone was reg om hom te kom haal toe hulle geskok besef dat hulle strategieë wat vir 98 jaar lank gewerk het, op die einde gefaal het. My oupa was gered. Op 64 jarige ouderdom kon my ma daardie aand beleef het hoe haar gebede wat sy van 16-jarige ouderdom afgebid het beantwoord is. Al die eer kom God toe. Hy het waarlik ’n wonderwerk in ons lewens kom doen!”
Mariette is reg. Satan en sy demone verblind ongelowige mense. In 2 Korintiërs 4:3-4 lees ons: “Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld (Satan)verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie.” Daar is egter tweede kanse wanneer ons ons sonde bely en Jesus Christus as ons Redder aanvaar. In Lukas 23:43 praat Jesus immers met die sondaar langs hom aan die kruis: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Kom ons hou aan bid vir ons geliefdes en verseker só dat ons ’n ewigheid saam in die paradys sal kan spandeer. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U deur u Heilige Gees my ongelowige vriende en familielede kan aanraak. Lei my met wysheid om te weet waarvoor om spesifiek te bid en ook om nooit moeg te raak wanneer dit lank neem voordat ek ’n deurbraak sien nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto van Mariette en haar 98-jarige oupa op my Liglag-blog op my webwerf, www.benescke.co.za of op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.