Vers n dag - 4 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 16: NUWE HOOP... MET BETER VERHOUDINGS
Deur Benescke Janse van Rensburg
Februarie-maand is bekend as die liefdesmaand. Tog, kan die dinamika van verhoudings (hetsy romantiese of met jou kind, kollega of skoonma) met tye ’n kopseer wees. Ek beantwoord graag ’n paar vrae wat lesers oor die afgelope paar weke rondom hierdie tema ingestuur het:
VRAAG 1: “Ek is al 40-jaar oud. Kan ek steeds hoop om ’n huweliksmaat te vind?”
By God is daar nie ’n vervaldatum om die regte lewensmaat te vind nie. Abraham se seun, Isak was immers al 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het (Genesis 24 en 25). ’n Huwelik vat egter werk en soms wil God ons eers voorberei om seker te maak ons karakter is sterk genoeg om ’n suksesvolle huwelik te bou.
As daar bagasie uit die verlede is wat jou terughou, vra God om jou te help om effektief deur dit te werk. Hy kan ons genees en voorberei. En as dit kom by die keuse van ’n lewensmaat, volg die riglyne in Spreuke 3:6: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” Doen dit en wie weet, dalk is 2013 die jaar waarin God jou pad met jou maat sin laat kruis!
VRAAG 2: “Wat as ek met ’n ongelowige persoon getroud is?”
Het jy al ooit gesien dat ’n ongelowige tot bekering kom omdat jy heeltyd aan hom of haar karring? Ek het nog nie. Wat ek wel al gesien het, is hoe kragtig lewens verander wanneer mans vir hulle vroue en vroue vir hulle mans begin bid. Dit is dan dat God deur sy Heilige Gees ingryp en die deurbrake bewerkstellig.
Dit is dus te verstane dat ons in 1 Petrus 3:1-2 lees: “As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle, julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.”
In stede van kritiseer en baklei, begin dus eerder vir jou huweliksmaat, rebelse kinders, knorrige kollegas of familielede wat nog nie vir God ken nie bid terwyl jy fokus om Jesus se liefde deur jou optrede aan ander rondom jou te demonstreer. Dít mag dalk die wêreld se verskil maak.
VRAAG 3: “Kan ek as geskeide persoon hoop op ’n tweede kans op geluk?”
In Jesaja 1:18 lees ons: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: ‘Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.’” As God aan ’n moordenaar, ’n prostituut en die vrou wat in owerspel betrap was ’n tweede kans op geluk kon gee, wie is ons om te sê dat Hy dit nie ook vir iemand sal doen wie se eerste huwelik misluk het nie?
VRAAG 4: “Is daar praktiese raad om beter verhoudings te bou?”
My praktiese riglyne kom uit 1 Korintiërs 13:
- Die liefde is geduldig: Bly jy te alle tye geduldig met jou huweliksmaat, jou kinders, jou kollegas of raak jy vinnig geïrriteerd?
- Die liefde is vriendelik: Bly jy vriendelik selfs al het jy rede om jouself behoorlik te vervies?
- Die liefde is nie afgunstig nie: Gun jy ander sukses sonder of raak jy jaloers?
- Die liefde soek nie sy eie belang nie: Is jy steeds die belangrikste in jou eie lewe of kan jy ander se behoeftes bó jou eie plaas?
- Die liefde is nie liggeraak nie: Raak jy vinnig kwaad en geïrriteerd vir elke klein dingetjie wat nie uitwerk soos wat jy dit wil hê nie of behou jy perspektief van wat belangrik is in die lewe?
- Die liefde hou nie boek van die kwaad nie: Vergeet jy vinnig of herinner jy ander gereeld aan foute uit die verlede?
- Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles: Bedek jy ander se foute of hang jy dit aan die groot klok?
Effektiewe verhoudings begin wanneer ons daarna begin streef om die huweliksmaat, vriend, vriendin of kollega te word wat ons graag in ons lewens wil hê. In stede van kritiseer en fout vind, begin dus eerder soek na geleenthede om ander eerlik te komplimenteer. Jy mag verbaas staan oor hoeveel mense skielik jou teenwoordigheid sal kom opsoek. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u riglyne uit u Woord om effektiewe verhoudings te bou. Help my asseblief om die persoon te word wie U my geskep het om te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting, besoek haar webwerf, www.benescke.co.za