Vers n dag - 14 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 24: NUWE HOOP. . . MET DIE GROOTSTE GESKENK VAN LIEFDE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Kom saam met my terug in tyd. Dis Vrydagmiddag net voor 15:00 op die heuwel van Golgota. Vars bloed syfer uit die wonde van die man wat aan die middelste kruis hang. Ure gelede is ’n doringkroon in sy kop ingedruk voordat sy liggaam onherkenbaar vermink is. Jy wil uitskree na die soldate wat onder die kruis staan en met Hom die spot dryf dat hulle ’n fout maak. Besef hulle dan nie wie hierdie Man aan die kruis is nie?
Meteens word dit donker rondom jou. ’n Stormwind ruk aan jou klere terwyl die grond onder jou voete begin bewe. “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?" (My God, my God, waarom het U My verlaat?) hoor jy die Man aan die middelste kruis roep. Jy hardloop nader tot aan die voet van die kruis. Jy wil naby aan Hom wees. Terwyl jy opkyk sien jy hoe sy kop stadig na sy bors sak. Julle oë ontmoet. Joune is gevul met skok, ongeloof en pyn. Syne is deurdrenk met liefde. Vir ’n oomblik staan julle so voordat Hy sy oë sluit en sy laaste asem uitblaas.
Trane stroom oor jou wange. Een blik was genoeg om jou te laat besef dat Hy vir jou aan die kruis hang. Dat Hy sy lewe vir jou opgegee het. En dat as Hy tyd kon terugdraai na die tuin van Getsémané, sou Hy weer kies om in jou plek te sterf!
Jesus het geweet dat ons sondige mense nooit in God se heilige teenwoordigheid sou kon ingaan nie. Hy het daarom vrywilliglik sy lewe vir ons elkeen opgegee om ons van die houvas van sonde te bevry. Tog, het jy so vasgevang geraak in die kaartjies, blomme of geskenke waarmee liefdesdae soos vandag gevier word of onthou jy steeds die grootste liefdesdaad van alle tye?
Omdat God ’n liefdesverhouding met elkeen van ons begeer het Hy 2000 jaar gelede die grootste risiko in die menslike geskiedenis geneem toe Hy sy Seun aarde toe gestuur het. In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” En in Romeine 8:38-39 bevestig Hy hierdie liefde vir ons: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
God het Jesus aarde toe gestuur, al het Hy geweet dat Hy ons elkeen met ’n vrye wil geskep het. Ons kan dus kies of ons Hom gaan dien of verwerp. Hy sal ons nooit forseer nie, want Hy is liefde. Wat is jou keuse vandag? En wanneer laas het jy vir Hom dankie gesê vir sy liefde en sy besluit om Jesus aarde toe te stuur? Sterkte!
Vader God, baie dankie vir u liefde en verlossingsplan wat deur Jesus bewerkstellig is. Dankie Jesus, dat U my ingedagte gehad het toe U die pyn aan die kruis verduur het. Help my om ’n lewe te lei wat getuig van my dankbaarheid vir hierdie opoffering. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.