Vers n dag - 13 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 23: NUWE HOOP. . . AS NIKS SIN MAAK NIE
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Paar dae gelede ontvang ek ’n e-pos van ’n pa wat skryf: “My seun is aan die begin van 2012 in Modimolle doodgeskiet. Dit het my lewe ingrypend verander. Ek het baie vrae oor die gebeurtenis. As dit God se besluit was, sal ek dit aanvaar, maar ek nie dat dit is nie.” Dae later word die 17-jarige Anene Booysen gewelddadig op Bredasdorp verkrag en vermoor en verskeie lesers vra waar God tydens die gebeurtenis was en hoekom Hy dit toegelaat het.
Die eeue-oue vraag kom weer na vore: Hoekom laat ’n goeie God slegte dinge in die wêreld toe? Daar is nie ’n maklike antwoord op hierdie vraag nie. Wat ons wel weet is dat God liefde is en dat dit sy hart breek as Hy ons sien swaarkry. Die moord op Modimolle en dié van Anene was dus verseker nie “God se plan” nie.
In Efesiërs 6:12 lees ons: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Satan en sy demone staan aan stuur van sake op aarde. Hulle doelwit is om ons seer te maak en verwoesting te saai en ons dan te probeer oortuig dat dit God is sodat ons Hom daarvoor blameer. In 2 Korintiërs 4:4 word Satan as die “god van hierdie wêreld” beskryf wat ongelowiges se verstand verblind om te verhoed dat hulle die lig van die evangelie en die heerlikheid van Christus raaksien. Wanneer mense dus nie ’n verhouding met Jesus Christus het nie, word hulle wetend of onwetend makliker deur die vyand ingetrek om verwoesting te saai. Dit is daarom te verstane dat ons met die kwynende hoeveelheid gelowiges in ons land al meer inbrake, buite-egtelike verhoudings, korrupsie, moord, verkragting en vele ander probleme in ons gemeenskappe ervaar.
Tog is daar hoop in Jesus Christus omdat Hy reeds die bose aan die kruis oorwin het – en aan ons die outoriteit gegee het om dieselfde te doen. In Lukas 10:19 sê Jesus: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.”
Hoe veg ons daagliks teen die vyand? Onthou, dit is ’n geestelike oorlog wat geestelike wapens vereis. In Efesiërs 6 word die wapenrusting gelys wat ons daagliks moet aantrek: 1) Die helm van verlossing: Die vyand val ons grootliks in ons gedagtewêreld aan. Sit jou helm op deur jou gedagtes daagliks te vernuwe; 2) Die borsharnas van vryspraak: Erken dat Jesus vir al jou sondes gesterf het en dank Hom opnuut vir hierdie opoffering; 3) Die gordel van die waarheid: Maak tyd om Bybel te lees. Dit is die enigste manier waarop jy die waarheid van God van die vyand se leuens sal kan onderskei; 4) Die skoene van bereidwilligheid om die evangelie te verkondig: Bid vir wysheid en onderskeiding dat die Heilige Gees jou lei om te weet wanneer jy moet praat en wanneer jy net vir ’n ongelowige se redding moet bid; 5) Die skild van geloof: Hou vas aan God se beloftes vir ’n deurbraak. Wanneer jou geloof swak raak, loof en prys Hom. Jy sal verbaas wees hoe dit jou geloof versterk; en 6) Die swaard van die Woord: God se Woord is ons enigste wapen in die stryd teen die bose. Begin doelbewus om sy beloftes te memoriseer – dit is immers jou ammunisie teen die vyand.
In Psalm 18:31 lees ons dat ons God vir ons beskerming kan vertrou: “Hy beskerm dié wat by Hom skuil.” En in 2 Korintiërs 12:9 skryf Paulus dat hy vir God drie keer gevra het om ’n doring uit sy vlees weg te neem. God se antwoord was egter: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Of jy dus ’n moeilike huwelik het, ’n siek geliefde by die huis, ’n klomp geld verloor het, sukkel om ’n verslawing te oorkom, ’n uitdaging in die werkplek het of dalk soos die bogenoemde leser sukkel om ’n traumatiese gebeurtenis in jou lewe te verwerk, weet dat God aan jou die mate van genade en krag sal gee wat jy benodig om jou situasie te hanteer. Niks sal ooit jou pad kruis wat Hy weet jy nie kan hanteer nie. In die storm leer ken ons Hom soms die intiemste. Wil jy nie ook vir ’n slag net stil in sy teenwoordigheid wag nie? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U vir Jesus gestuur het wat die krag van die bose volkome gebreek het. Help my om daagliks seker te maak dat ek die wapenrusting aanhet sodat ek met selfvertroue hierdie geveg kan veg. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.