Vers n dag - 18 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 26: NUWE HOOP. . . MET ’n POSITIEWE INGESTELDHEID OP DIE LEWE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dink vir ’n oomblik waaraan jy die meeste dink. ’n Uitdaging by die werk? ’n Finansiële krisis by die huis? Jou siektetoestand? Jou huwelik wat besig is om uitmekaar te val of jou gebroke hart na ’n verhouding wat nie uitgewerk het nie? Die beplande herstrukturering by jou werk? Jou kinders se veiligheid? Of dalk ’n kollega in jou kantoor op jou senuwees werk?
Hoe dink jy daaroor? Met ’n positiewe gesteldheid omdat jy weet dat God almagtig is en in beheer is van die heelal en daarom alles ten goede kan laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet? Of is jy geneig om op die negatiewe te fokus terwyl jou toekoms al donkerder vir jou lyk?
Hier is jou opdrag vir die week – ’n “gratis terapiesessie” soos Mark Rutherford dit noem: “Skep vir jouself elke dag ’n paar minute van gratis terapie deur minstens tien goeie dinge te noem wat jy in ander raakgesien het. Jy het geen idee hoe vinnig dit jou negatiwiteit sal verdryf nie. Maar onthou, dit kom nie vanself om die goeie in ander te sien nie. Jy moet vasberade daarvoor soek.” – Mark Rutherford
Ook Paulus herinner ons in Filippense 4 dat ’n positiewe ingesteldheid op die lewe by ons gedagtewêreld begin en dat positiewe gedagtes oor jouself ’n daaglikse, doelbewuste besluit is: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” – Filippense 4:8
Hoe lyk jou gedagtes rondom die uitdaging in die werkplek? Besef jy dat God dit vir jou kan uitsorteer? Wat van jou finansies? Dank jy Hom reeds vir jou deurbraak voordat jy dit beleef omdat jy weet dat al die geld in die wêreld aan Hom behoort? Hy is die Geneser en kan jou of ’n geliefde van ’n ernstige siektetoestand genees al gee die dokters vir jou geen kans daarvoor nie. Hy kan jou huwelik red al voel dit asof daar geen meer hoop daarvoor is nie. Hy kan jou hart genees na ’n gebroke verhouding en aan jou iemand stuur wat veel beter by jou pas. As jy by die werk afgelê word kan Hy jou help om jou droom werk by ’n ander maatskappy te kry. Hy is in staat om jou kinders in die gevaarlikste situasies te beskerm. En vir daardie kollega in jou kantoor wat op jou senuwees werk? Het jy al begin om vir hom of haar te bid? Jy mag verbaas staan oor hoe God julle beide kan verander – en selfs ’n vriendskap tussen julle laat blom! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U almagtig is. Help my om elke negatiewe gedagte vas te vat en myself te herinner dat daar by U geen beperkings is op wat U kan vermag nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.