Vers n dag - 19 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 27: IS JY ’N JOB OF ’N JONA?
Deur Benescke Janse van Rensburg
Die meeste geestelike boodskappe wat ons lees herinner ons daaraan dat God almagtig is, dat Hy ons deur moeilike tye dra en dat Hy ons nooit verlaat of in die steek sal laat nie. Ons kan dus sonder enige twyfel weet dat Hy te alle tye dáár is vir ons.
My vraag aan jou is egter die volgende: Is jy dáár vir Hom? Kan God op jou reken om vir Hom standpunt in te neem – selfs al staan jy alleen in jou werkplek, jou huisgesin of die land of gemeenskap waarin jy woon? Is jou stiltetyd saam met Hom vir jou ’n prioriteit of is dit die eerste ding wat jy skrap wanneer jou dagboek vol afsprake word? Hou jy aan om Hom soos Job in jou diepste seer en verlies te prys omdat jy weet wie Hy is of begin jy Hom bevraagteken? En sal jy gehoorsaam wees om na die gevaarlikste onbereikte mensegroep ter wêreld te reis om God se evangelie te gaan verkondig as Hy jou soontoe stuur – of gaan jy soos Jona die hasepad kies?
In kort: Hoe betroubaar is jy? Job het nie geweet dat die vyand vir God toestemming gevra het om hom te toets nie. Ook nie dat die hemelskare se oë op hom gerig was om sy reaksie te midde van sy verlies en pyn dop te hou nie. Tog het Job nie eenmaal sy rug op God gedraai nie. Hy was betroubaar. Jona aan die ander kant het die eerste geleentheid wat hy kon kry om weg van Nineve te vlug aangegryp en op ’n boot na Tarsus geklim.
Die egtheid van ons liefde vir God en ons verhouding met Hom word getoets in die manier waarop ons uitdagings in ons lewens hanteer. In 1 Korintiërs 4:1-4 lees ons: “... ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van 'n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. . . Dit is die Here wat my beoordeel.”
Ook in 2 Timoteus 4:7-8 herinner Paulus ons aan die voordele om tot aan die einde van ons reis op aarde betroubaar te bly: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”
As jy vandag getoets word, sal jy soos Job die toets deurstaan of gaan jy soos Jona wegvlug en jou rug op God keer? Kom ons maak seker dat ons te alle tye betroubaar bly. Kan jy dink waar ons sou wees as God nie betroubaar was nie? Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U getrouheid teenoor my. Vergewe my waar ek U in die verlede teleurgestel het deur soos Jona my rug op U te draai. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.