Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 22 Februarie 2013

HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 30: NUWE HOOP... VIR DIE WERKPLEK

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Staan jy vandag op die punt om te bedank omdat jy nie meer jou onregverdige baas of onbeskofte kollega se gedrag kan verdra nie? Wanneer laas het jy oor die saak gebid? En as jy eerlik moet wees: Het jy begin om jou werk as vanselfsprekend te aanvaar of sien jy dit steeds as ’n genadegawe uit God se hand?

Besef jy dat as jy vandag ’n werk het, jy in ’n beter plek is as 24.9% van ons land se volwasse populasie wat werkloos is? En as jy kos in die huis het, jy beter af is as 50% van ons land se populasie wat volgens die jongste statistiek onder die broodlyn leef? Dalk moet ons weer ons oë oopmaak en begin dankbaar wees vir wat ons het in stede daarvan om te fokus op wat ons nie het nie.

Ek bespreek graag vandag vyf Bybelse beginsels vir die werkplek wat ons dalk kan help om uitdagings in die werkplek meer effektief te hanteer:

BEGINSEL 1: WERK ASOF GOD JOU WERKGEWER IS

In Efesiërs 6:6 lees ons: “Julle moenie net werk wanneer julle eienaars vir julle kyk nie, julle moenie werk sodat mense van julle kan hou nie ... Nee, dit moet vir julle wees soos wanneer julle vir die Here self werk, nie soos wanneer julle vir mense werk nie.” Werk jy asof jy vir God werk of probeer jy steeds om jou bestuurder te beïndruk?

BEGINSEL 2: VRA VIR GOD WYSHEID EN LEIDING IN ELKE ASPEK VAN JOU WERK

In Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee ... ” Wie raadpleeg jy eerste wanneer jy in die werkplek voor ’n muur te staan kom en nie weet hoe om ’n bepaalde uitdaging te hanteer nie? God, die internet of jou kollegas?

BEGINSEL 3: TREE IN ELKE SITUASIE MET INTEGRITEIT OP

In Deuteronomium 25:15-16: “As jy lank wil lewe in die land wat jou God die Here vir jou gee, dan moet jy gewigte en mate gebruik wat reg en eerlik is. Want die Here haat dit wanneer mense oneerlik is.” Het jy duidelike grense vir jou optrede in die werkplek ingestel of is daar steeds grys areas wat jy oneerlik in optree?

BEGINSEL 4: MAAK GOD DEEL VAN JOU PLANNE

In Spreuke 16:3: “Jy moet vir die Here vra wat jy moet doen, dan sal jou planne slaag.” Raadpleeg jy God vir leiding voordat jy nuwe projekte aanpak of slegs wanneer jy desperaat besef dat jy vasbrand?

BEGINSEL 5: MOENIE NET PRAAT NIE, WERK HARD!

In Spreuke 14:23: “Wanneer iemand hard werk, dan kry hy baie dinge. Wanneer iemand net praat en niks doen nie, dan bly hy arm.” Is jy iemand wat so min moontlik in die werkplek probeer doen of kan God jou vertrou om jou beste in elke situasie te lewer?

Kom ons wees van vooraf dankbaar vir die werksgeleentheid wat ons wel het en kom ons begin werk van vandag af asof God ons uitvoerende hoof is. Kom ons nooi Hom vroegdag in ons werksplek in en vertrou dat Hy ons deur sy Heilige Gees met wysheid verby die uitdagings sal lei terwyl ons met integriteit optree en Hom raadpleeg voor ons nuwe projekte aanpak en ons beste daarin probeer. Kom ons fokus op wat ons het en nie net op die uitdagings nie! Sterkte.

GEBED VIR DIEGENE MET ’n WERK:

Vader God, baie dankie vir my huidige werk. Help my om met ’n positiewe gesindheid te leef en te werk en nie heeltyd fout te soek nie, maar eerder iemand te word saam met wie my kollegas geniet om te werk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

GEBED VIR DIEGENE WAT TANS WERK SOEK:

Vader God, baie dankie dat U van my huidige situasie weet. Help my om positief te bly selfs al neem die soektog soms langer as waarvoor ek gehoop het. Lei my na die regte maatskappy en gee vir my wysheid, selfvertroue en guns wanneer ek vir ’n werksonderhoud moet gaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.

Previous article: Vers n dag - 25 Februarie 2013 Prev Next article: Vers n dag - 21 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.