Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 21 Februarie 2013

HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 29: NUWE HOOP . . . MET ONVERDIENDE GENADE

Deur Benescke Janse van Rensburg

Verskeie lesers het oor die afgelope paar dae vir my gevra wat my opinie rondom die Oscar Pistorius tragedie is. My antwoord is soos volg:

Kom vir ’n oomblik saam met my terug in tyd. Jy staan op die markplein in Jerusalem waar die geluid van ’n oproerige skare vanuit die tempel jou aandag trek. Jy stap vinnig nader. Aan die binnekant van die gebou druk jy versigtig deur die skare tot heel voor. Jy wil sien waaroor die bohaai gaan. Dan sien jy haar. Op die vloer in die middel van ’n kring skrifgeleerdes en Fariseërs sit die beeldskone, skraal vrou met stofmerke aan haar elmboë en knieë. Weerloos. Gebroke. Die merke van vars trane lê op haar wange. “Ek is regtig jammer,” prewel sy voordat ’n skrifgeleerde haar kras stilmaak, “Bly stil vrou! Jy is skuldig. Jy moet sterf!”

Meteens besef jy wat aangaan. Die priesterhoofde het die vrou in owerspel betrap en haar na die tempel gebring waar Jesus besig was om die skare mense te leer. Die skrifgeleerdes wou kamma sy opinie oor die saak hê, maar bloot in die hoop dat hulle dit later teen hom kan gebruik. “Jesus,” begin een van die skrifgeleerdes in ’n harde stem sodat die hele skare hom moet hoor, “hierdie vrou hier voor u is op heterdaad betrap waar sy owerspel gepleeg het. In die wet van Moses word beveel dat sy gestenig moet word. Maar wat sê U?” Jou hart klop vinnig toe jy die klip in die skrifgeleerde se hand sien. Hierdie saak is ernstig. Hy is gereed om die straf uit te voer.

Die skare word hoorbaar stiller terwyl almal se oë na Jesus draai. Wat sal hy hiervan sê? Tot almal se verbasing reageer hy egter glad nie op die vraag nie, maar buk af terwyl hy met sy vinger op die grond begin skryf. “Uh, Jesus,” praat die skrifgeleerdes weer nadat hy sy keel ongemaklik skoongemaak het, “het u my vraag gehoor?” Jesus kom regop, kyk die man stip in die oë en antwoord dan: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, die eerste klip gooi.” Hierna buk hy weer af terwyl hy verder skryf. Eenvoudig, kragtig, tot die punt.

’n Ongemaklike geskuifel klink op terwyl die skrifgeleerdes een na die ander die tempel verlaat totdat net Jesus en die vrou oorbly. “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” vra hy met deernis in sy stem. Met ’n bewerige hand vee sy vinnig haar trane weg voordat sy moedig probeer antwoord: “Niemand nie, Here.” Dan praat Jesus verder: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Lees weer hierdie verhaal, maar plaas jouself die keer in die middel van die kring met die skrifgeleerdes rondom jou. Kan jy hoor hoe hulle aanhoudend kras verwyte na jou slinger vir iets wat jy in die verlede gedoen het waaroor jy geweldige berou het? Luister nou na die deernis in Jesus se stem: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Plaas nou vir Oscar Pistorius in die sirkel. Dit is waar hy tans staan. Op die sosiale media en nuusblaaie wêreldwyd word kras verwyte na hom geslinger. Is jou lewe so perfek dat jy ook klippe na hom gooi of besef jy dat ons net so feilbaar soos hy is – en dat God aan jou onverdiende genade betoon het?

In Mattheus 7:1-5 lees ons: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”

My hart gaan uit na beide die Pistorius- en Steenkamp-gesinne en nie vir een oomblik wil ek die ernstigheid van die saak afwater nie. Wat ek wel wil beklemtoon: Wanneer ons berou het oor ons verkeerde dade en daarvan wegdraai is daar by God tweede kanse. Hy het immers van Saulus die moordenaar, Paulus die evangelis gemaak. Van Simon, wat Jesus verloën het, Petrus, die rots waarop die kerk gebou is. Hy het aan die man langs hom aan die kruis gesê dat hulle saam in die Paradys sou wees en dit was die vrou wat amper weens haar owerspel gestenig is, aan wie Hy eerste na sy opstanding in die tuin verskyn het. Wat bewys jy aan die mense rondom jou: veroordeling of onverdiende genade? Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u onverdiende genade elke dag in my lewe. Help om om dieselfde aan diegene rondom my te bewys en die oordeel aan U oor te laat. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.

Previous article: Vers n dag - 22 Februarie 2013 Prev Next article: Vers n dag - 20 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.