Vers n dag - 26 Februarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 32: NUWE HOOP... IN GEHOORSAAMHEID AAN GOD
Deur: Benescke Janse van Rensburg
In Egipte is dit teen die wet vir Christene om oor hulle geloof te getuig aangesien daar ’n ander dominante geloofsgroep in die land is. Tog werk God steeds op kragtige om mense na Hom toe te trek. Een van my kollegas het onlangs uit Egipte teruggekeer waar hy deel was van ’n gebedskonferensie vir die ondergrondse kerk aangebied het. Ek deel graag ’n getuienis wat ’n vrou daar met die groep gedeel het:
Op die agterste sitplek van die taxi het Maggie se hart vinnig geklop en haar handpalms was natgesweet. “Praat met die bestuurder oor My,” het sy weer die Heilige Gees se fluisterstem gehoor. Sy wou, regtig sy wou, maar elke keer as sy na die man se tradisionele uitrusting en lang baard gekyk het wat van sy lojaliteit aan sy geloofsgroep getuig, het haar moed haar begewe. Wat as hy haar by die owerheid gaan aankla en sy vervolg word? Sy het immers ’n familie by die huis om aan te dink.
Toe die bestuurder voor Maggie se werk stop, het dit gevoel asof sy gaan flou word soos haar hart in haar keel klop. “Praat met die man oor My. Sê vir hom dat ek hom liefhet...” het sy weer die stem gehoor terwyl sy uit die voertuig geklim het. Sy het geweet dat sy gehoorsaam moes wees. Terwyl sy die geld aan die bestuurder oorhandig het sy haar kans met dié eenvoudige sinnetjie waargeneem: “Hier is die geld. En terloops, Jesus het jou geweldig lief!” Sy het omgeswaai om van die taxi af weg te kom. Toe sy die taxibestuurder se deur agter haar hoor oopgaan het sy amper begin hardloop. “Wag! Wag asseblief!” het die taxibestuurder egter met ’n dringendheid in sy stem na haar geroep. “Ek moet met jou praat. Gee my net 5 minute van jou tyd!”
In vrees het Maggie na die taxi teruggedraai. Wat sou hierdie man by haar wou hê? By die taxi was sy verbaas oor die dringendheid in die bestuurder se oë. Sy het versigtig terug in die voertuig geklim. Die bestuurder het haar vertel dat hy oor die afgelope paar maande vier keer drome gehad het waarin Jesus aan hom verskyn het. Elke keer het Jesus vir hom gesê om Hom te volg. Die man was egter te bang om dit te doen. Die vorige aand het Jesus weer aan hom verskyn. Dié keer het hy gesê: “Jy wil my nie volg nie, maar môre sal daar ’n vrou in jou taxi wees wat jou iets van My sal vertel. Dan sal jy weet dat Ek ’n werklikheid is.” Daar in die taxi, langs die besige pad in Egipte, het Maggie die voorreg gehad om die Egiptenaar na Jesus Christus te lei.
God het alle mense geskep om in ’n verhouding met Hom te staan. Soms moet ons net ’n skakel in sy ketting wees om sy karakter aan die wêreld te demonstreer. In 1 Korintiërs 3:6,7,9 sê Paulus: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. . . Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.”
Is jy gehoorsaam en beskikbaar om as God se instrument op te tree as Hy jou benodig? In 1 Samuel 15:22 beklemtoon Samuel dat gehoorsaamheid vir God geweldig belangrik is: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.”
Kan jy jouself indink watter applous in die hemel opgeklink het toe Maggie terug in die taxi klim? Vir lank het sy en haar gemeentelede vir verlore siele in hulle land gebid en die keer was sy die laaste skakel in God se ketting wat ’n verlore siel se eindbestemming vir ewig sou verander. Kom ons wees gehoorsaam en hou ons oë oop vir waar God ons vandag as sy instrumente wil gebruik. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U ’n verhouding met my begeer soos ek een met U begeer. Help my vandag om gehoorsaam te wees as U my benodig om as u instrument op te tree in ander se lewens. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.