Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 27 Februarie 2013

HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 33: NUWE HOOP... MET DIE LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES

Deur Benescke Janse Rensburg

Heelwat lesers het oor die afgelope reeks gevra dat ek iets moet skryf oor hoe ons die stem van die Heilige Gees duideliker kan hoor. Hier is vier praktiese stappe uit Habakuk 2:1-3:

·         Habakuk 2:1-3: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt. Die Here het toe vir my gesê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie...”

STAP 1: RAAK STIL EN MAAK TYD OM GOD SE STEM IN JOU LEWE TE HOOR

·         Habakuk 2:1: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem. . .”

God is oral en ons kan te enige tyd met Hom praat. Tog is dit nodig om onsself van tyd tot tyd af te sonder en weg te breek na ’n stil plek waar ons werklik op Hom kan fokus. Habakuk se stil plek was die uitkyktoring van die stad. Joune kan jou kamer, kantoor of selfs die park in jou omgewing wees. Daardie stil plek skep aan ons die geleentheid om van ons uitdagings weg te kyk, stil te word en te luister as God met ons wil praat.

STAP 2: WEES OOP VIR DIE STEM VAN DIE HEILIGE GEES

·         Habakuk 2:1: “. . . ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê. . .”

Moenie net vir ’n hoorbare stem wag nie. Alhoewel God soms hoorbaar met ons praat, praat Hy meestal deur sy Heilige Gees met ons in die vorm van spontane gedagtes, visies, gevoelens, die Woord of indrukke in ons hart. Byvoorbeeld, jy ry in jou motor en dink aan ’n spesifieke persoon en ervaar om vir hom of haar te bid. Later die dag hoor jy dat hulle dit werklik nodig gehad het. Of jy ervaar ’n krisis in jou werkplek. Jy bid daaroor en weet meteens wat die regte oplossing is. Waar kom die gedagtes vandaan? Dit is heel moontlik die Heilige Gees wat met jou praat.

Wanneer jy in jou stil plek gaan sit, stel jouself oop vir die Heilige Gees. Wanneer ’n spontane vloei van gedagtes vorm, trek ’n joernaal nader en begin skryf dit neer. Dit is heel moontlik God wat deur sy Gees met jou praat.

STAP 3: FOKUS OP GOD EN VRA HOM VIR WYSHEID

Jy kan dadelik die Heilige Gees verwelkom en innooi om met jou te gesels wanneer jy in jou stil plek voor God gaan staan. Hy praat immers met ons deur sy Gees. Die beste manier om jou gedagtes weg van jou uitdagings na God te skuif, is om God te begin dank vir wie Hy vir jou is en wat Hy vir jou beteken. Dank Hom ook dat Hy vir Jesus gestuur het om ons sondes weg te neem. Nog ’n goeie idee is om beloftes uit die Bybel te lees en te oordink. Dit herinner ons aan God se grootheid en sy vermoë om enige moeilike situasie maklik uit te sorteer.

In jou stil plek kan jy ook eerlik met God oor jou uitdagings gesels en Hom vir wysheid vra. Hy het immers reeds antwoorde op probleme wat jy nog nie eens in jou lewe ervaar het nie.

STAP 4: SKRYF JOU DIALOOG NEER

·         Habakuk 2:2-3: “Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie...”

God het aan Habakuk ’n openbaring vir ’n bepaalde tyd gegee en hy moes dit op kleitablette neerskryf om ander daaraan te herinner. God het hom ook gemaan om geduldig te wag vir die deurbraak aangesien Hy geweet het dat ons soms mismoedig raak as ons nie dadelik resultate sien nie.

Dieselfde geld vandag vir ons. As die Heilige Gees met ons praat moet ons dit in ons joernale neerskryf. Dit sal ons ook herinner om geduldig te wag met die wete dat God altyd sy Woord hou en op die regte tyd aan ons die deurbrake sal bewerkstellig.

Hoe weet jy dat die gedagtes wat jy ervaar van God is en nie net jou eie verbeelding is nie? Gaan terug na God se Woord. Hy sal nooit aan jou ’n boodskap gee wat teenstrydig met sy Woord of karakter is nie. As jy rustigheid ervaar en dit is in lyn met sy Woord kan jy weet dit is van Hom.

Benodig jy vandag wysheid oor ’n saak? Maak tyd om voor God stil te word, wees oop vir sy Gees om met jou te praat, fokus op Hom en skryf neer wat jy hoor. Hierdie mag dalk die eerste stap van ’n nuwe avontuur saam met Hom wees! Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U daagliks met ons deur u Heilige Gees praat. Help my om my ore te spits en nie u boodskappe te mis nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.

Previous article: Vers n dag - 28 Februarie 2013 Prev Next article: Vers n dag - 26 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.