Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 28 Februarie 2013

NB: Hierdie is die laaste stuk in die huidige reeks. Laat weet ons wat jy van die reeks gedink het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Nota van die skrywer: Baie dankie vir elke e-pos, oproep en getuienis wat ek oor die afgelope twee maande ontvang het. Dit bly ’n groot voorreg om te sien waar God besig is om te werk. Ek sluit vandag die Nuwe Hoop-reeks af met ’n gebeurtenis ná aan my hart en ek hoop dit sal jou bemoedig om die res van 2013 met nuwe hoop aan te pak met die wete dat niks vir God onmoontlik is nie. Groete, Benescke

DAG 34: NUWE HOOP... DAT GOD MEER KAN DOEN AS WAT ONS DINK

Deur Benescke Janse Rensburg

“Hallo Benescke, dit is Ouma Annie van Atlantis hier,” het die bejaarde dame haarself oor die foon aan my bekendgestel. Hierna het sy my vertel dat haar kleindogter, Tamerin, ook graag na haar matriekafskeid wil gaan, maar dat hulle as familie dit nie kon bekostig nie.

By Radio Tygerberg se ontbytprogram, Oggendrooi, het ons jaarliks rondom Augustus ’n matriekafskeidprojek waartydens luisteraars matrieks kan nomineer wat graag hulle afskeide wil bywoon, maar dit nie kan bekostig nie. Ons kies dan vier matrieks uit die nominasies wat ons by hulle skole gaan verras met die nuus van ’n matriekafskeid van hulle drome. Die prys sluit onder meer die rok, pak, grimering, hare, juwele, skoene en spogmotor vir die aand in. Nodeloos om te sê is daar gewoonlik baie trane met die aankondiging. Ons neem dit vooraf op en deel dit dan op ’n latere stadium met die luisteraars oor die radio.

Ons het reeds die wenners aangekondig en ons was besig om die terugvoer met die luisteraars te deel toe Ouma Annie haar opwagting maak. My antwoord aan haar was: “Ouma Annie, ek wens ons kan help, maar ons het reeds die wenners aangewys.” Dít het haar egter nie ontmoedig nie. Die volgende oggend het ek weer ’n oproep van haar gekry. “Hallo Benescke, dis Ouma Annie van Atlantis hier. Ek weet ek het gister met jou gepraat, maar ek wil net uitvind of God nog nie deurgekom het vir ons nie.” Só het die oproepe vir ’n hele week aangehou. Elke keer as ek by my lessenaar kom het ’n klein briefie op my gewag met die boodskap dat Ouma Annie weer geskakel het. Haar deursettingsvermoë het my laat glimlag.

Teen die einde van daardie week was ek besig om die pryse wat ons van weldoeners en borge ingesamel het vir die projek te finaliseer. Tot my verbasing was daar presies genoeg pryse tot ons beskikking om nog een matriekleerder te help. Ek het dadelik vir Ouma Annie gebel. Daar was baie trane van vreugde aan haar kant (luister gerus na die telefoongesprek by die skakel onderaan die stuk).

Nadat ons die storie van Ouma Annie met die luisteraars gedeel het, het ’n paar luisteraars aangebied om die Spandiel-gesin met kruideniersware te help. ’n Paar dae later het Ouma Annie en Tamerin se ouers dit by die stasie kom afhaal. Hier het hulle van God se onbeskryflike goedheid vir hulle gesin getuig. Wat ons nie geweet het nie was dat die familie in April verlede jaar as gesin saam met hulle gemeente in Atlantis gevas en gebid het. Daar was ’n bord in die gemeente opgesit waar lede hulle gebedsversoeke kon gaan neerskryf. Vir die Spandiel-gesin was daar twee gebedsversoeke. Een, Tamerin se matriekafskeid en twee, sy het goed gedoen op skool en wou gaan studeer, maar fondse was ’n probleem. Sy moes dus ’n beurs êrens kry.

Vir die Spandiel-gesin was daar geen plan B nie. Tamerin se pa het sy werk verloor en het reeds op daardie stadium vir maande lank werk gesoek. Haar ma het na hulle klein baba by die huis omgesien. Al wat hulle kon doen was om op God te vertrou vir ’n deurbraak. Die uiteinde? ’n Paar dae nadat ons vir Ouma Annie met die nuus van die matriekafskeid van Tamerin se drome gebel het, het die gesin ’n brief in die pos gekry dat sy gekeur is om by die Stellenbosch Universiteit medies te gaan studeer. Hulle het net vir God gehad – en Hy was oorgenoeg vir hulle.

In Efesiërs 3:21 lees ons: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

Voel jy of jy vandag soos die Spandiel-gesin eens met jou rug teen die muur staan? Is jou huwelik besig om te vou, sukkel jy met kinderloosheid, staar jy aflegging by die werk in die oë, is daar siekte in die familie of trek jou keel toe as jy dink aan die rekeninge wat aan die einde van die maand betaal moet word? Onthou, niks is vir God onmoontlik nie. As Hy vir Ouma Annie van Atlantis se gesin ’n deurbraak kon bewerkstellig, kan Hy dieselfde vir jou ook doen. Hulle het net vir God gehad – en Hy was oorgenoeg! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. Help my om weg te kyk van my probleme en my hoop in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto’s van die gesin op www.benescke.co.za of die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.
  • Luister na klankgreep waar ek vir Ouma Annie gebel het: http://benescke.co.za/blog/2013/02/27/dag-34-nuwe-hoop-dat-god-meer-kan-doen-as-wat-ons-dink/mixdown_matriekafskeid-dag-5-net-ouma-annie-se-stukkie-verkort2/

NOTA: Hierdie is die laaste stuk in die huidige reeks. Laat weet ons wat jy van die reeks gedink het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms. Vir meer inligting: www.benescke.co.za.

Previous article: Vers n dag - 1 Maart 2013 Prev Next article: Vers n dag - 27 Februarie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.