Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verse-a-day 2 April 2013

1.  Kruispunt in die geskiedenis

Hennie Symington

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Filippense 2:8

Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Filippense 3:10

Met Pase vars in ons harte en in ons ore, is dit goed om na te dink oor wat dit vir ons beteken. Pase is die kruispunt van ons geskiedenis – die lewe voor en die lewe na Christus se versoeningsdood. Aan die kruis sien ons wat die bose én die liefde kan doen. Die liefde oorwin die kwaad die oomblik toe die bose daarin slaag om Christus dood te maak.

By die dood van die Skepper was dit of die natuur van skok geruk het. Die aarde het gebewe en duisternis het op die aarde toegesak. Toe het alles stil geword terwyl die hemel en aarde in spanning wag oor wat die uiteinde van die kruisdrama sou wees. Tussen Goeie Vrydag en Paassondag hang die mens figuurlik gesproke tussen die hemel en die hel. Dis ’n dag van meditasie waarin ons op die lyding en sterwe van Christus fokus.

“Hy’ t opgestaan, ja, Hy’t waarlik opgestaan

Op Paassondag slaak hemel en aarde ’n sug van verligting wanneer dit duidelik word dat Christus die reis na die dood terug na die lewe volbring het. En dit vir geen ander rede as om die lewe in jou are terug te blaas nie. Sy oorwinning oor die dood maak dit vir jou moontlik om op te staan en weer te leef.

Laat jou Paasgroet aan almal wat jy teëkom ’n welluidende en duidelike boodskap wees: “Hy het opgestaan! Ja, hy het waarlik opgestaan! Ek weet want ek was dood en het weer lewendig geword. Hy het my uit die graf van sonde bevry! Halleluja!”

Gebed vir vandag

Hou die herinnering van die paasgebeure vars in my geheue en blaas asem oor my lewe sodat ek kan opstaan en leef. Amen.

Previous article: Vers n dag - 3 April 2013 Prev Next article: Vers n dag - 28 Maart 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.