Vers n dag - 3 April 2013
2. Christus weer en weer gekruisig
Hennie Symington
Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 1 Korintiërs. 15:20-22
As die lewe ’n verskrikking is
Die Griekse skrywer Nikos Kazantzakis het in die vorige eeu ’n boek met die naam “Christ Recrucified” geskryf waarin hy wys dat Jesus se lydenspad nie 2000 jaar gelede geëindig nie. Die stasies van die kruis word nou ons ons strate, ons stede, ons hospitale, ons townships en ons voorstede waar Hy oor en oor gekruisig word deur die boosheid wat in in die harte van mense leef.
Slaan die koerant oop op bladsy een, twee of drie – nee, selfs vier - en al waaroor jy lees is die allervreeslikste geweld en wreedheid van mens teenoor mens. Vir baie is hartseer en verlies deel van die lewe. Dag vir dag word ons gekonfronteer met die bose - al is dit net deur iets te lees of te hoor wat jou so skok dat jy dit nie uit jou gedagtes kan kry nie. En jy sug en sê: Het die mens dan geen genade nie?
Naskokke van die sondeval
As jy so na die wêreld kyk, dan besef jy die eintlike gevolge implikasies van Adam en Eva se ongehoorsaamheid. Op daardie dag, of jy dit nou letterlik glo of nie, het die mens sy eie ondergang bewerk. En God weet daar was geen ander uitweg as om sy Seun te stuur om ons ’n tweede kans te gee nie. Die stryd is helaas nie verby nie. Die bose veg verbete terug. Ons troos is die oorwinning is in God se hand maar die naskokke van die sondeval sal ons tot in die einde van tyd steeds voel.
Gebed vir vandag
Here, U is my Redder en my hoop op’n beter wêreld. Wys my u goedheid en genade en laat u lig oor my skyn.