Vers n dag - 5 April 2013
4. Klim af van jou troontjie
Hennie Symington
“Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is sal verhoog word.” Lukas 14:11
“As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees” Markus 9:35
…. Maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Filippense 2:6-7
Om die Koninkryk in nederigheid te dien
Nederigheid is nie ’n populêre eienskap op die CV van die suksesvolles nie. Dit klink so middeleeus, soos iets uit ’n klooster wat net vir heiliges bedoel is. Dit pas nie in by die moderne mens se “image” met die klem vierkantig op die eie ek nie. Om die waarheid te sê, die moderne mens beskou die nederiges as ’n bietjie armsalig.
Kultus van die selfbeeld
Nederigheid is ʼn deug wat deur die Westerse samelewing verwaarloos is. Ons het ons hele kultuur gebou op die kultus van die selfbeeld. ’n Gesonde selfbeeld is vir ons gelyk aan saligheid en bewaar die een wat lyk of sy ego ’n kwynende plantjie is.
Die Bybel skets egter ’n ander prentjie. Hier word nederigheid ver bo eietrots gestel. Nederigheid kom deur selfkennis, en selfkennis vloei uit jou kennis van God. As ons God se grootheid raaksien, kan ons nie anders as om te besef hoe klein ons is nie. As ons sien hoe nederig Jesus is, besef ons hoe min ons van nederigheid verstaan.
Nederigheid is nie ’n abstrakte begrip nie.
Hoe moeilik is dit vir ons om nie altyd nommer een te wil wees nie. Selfs in die nederigste take wil ons die beste wees: beste ma, beste presteerder, en beste in alles wat jy doen. In plaas daarvan om tevrede te wees, belas ons ons met allerhande behoeftes en onbereikbare doelwitte. In plaas daarvan om eenvoud na te streef, soek ons rykdom, mag en prestige. In plaas daarvan om God in alles gehoorsaam te wees, volg ons ons eie wil na, wat ons keer op keer in ’n doodloopstraat laat beland. Jesus, die Nederige, is ons volmaakte voorbeeld van die noodsaaklikste Christelike eienskap - nederigheid.
Hoe kan ek nederigheid nastreef?
Deur soos Christus die “gestalte van ’n dienskneg aan te neem”. Hy wat aan God gelyk was het dit nie as ’n verlies beskou om homself te verneder nie. Die vraag is: is dit vir jou?
Gebed vir vandag:
Jesus, deurdat U God se plan vir die redding van die mensdom aanvaar het, en U lewe prysgegee het vir my, het ek geleer wat nederigheid is. Versterk my sodat ek u weg kan volg.