Verse-a-day 8 April 2013
Jou koninkrykie versus God se koninkryk
Hennie Symington
Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Handelinge. 2:41-42
“’n Mens vir ander”
Die 17e eeuse Engelse prediker en digter John Donne het gesê: Geen mens is’n eiland nie; elke mens is deel van die kontinent,’n stukkie van die geheel. John Wesley, die vader van die Metodiste, het weer die Christelike geloof as ’n “sosiale” godsdiens beskryf. Die Ou en die Nuwe Testament gaan oor die volk van God, van gemeenskap, van omgee vir mekaar en van solidariteit met mekaar. Ons volg nie verniet die Een, Jesus Christus, wat Dietrich Bonhoeffer beskryf het as “ʼn mens vir ander” nie.
As jou wêreld net om jou draai
Om jou toe te kokon is ’n tipiese instink van mense wat bedreig voel deur ’n wêreld wat vir hulle te kompleks, of net te erg geword het. Hierbinne hulle eie ideale klein wêreldjie hoop hulle om weg te kruip en hulle geliefdes te koester en te beskerm, en het vrede met die wêreld daarbuite. Al wat saak maak is ek en my eie.
Die 21ste eeu het juis ’n behoefte aan ’n spiritualiteit wat wys dat God steeds teenwoordig is in die wêreld en dat sy Woord steeds iets te sê het vir vandag se mense.
In plaas daarvan om die lewe in ’n glasborrel te idealiseer, moet ons dit ten sterkste betreur dat soveel mense dit as die beste oplossing op hulle geestelike pad sien. Eintlik is dit ’n mosie van wantroue in God as jy. ten spyte van wat jy sê jy glo, nie kan aanvaar dat jou geloof steeds ’n rol het om te speel in die moderne wêreld nie. So rol op die moue en doen iets. Dis wat Christene doen.
Gebed vir vandag:
Here, U is my beskermer en my heil. Ek sal nie wegskram van die wêreld waar U my geplaas het om ’n stukkie van U koninkryk te laat kom nie.