Vers n dag - 22 April 2013
Ek wens ek het nie geweet nie
Hennie Symington
Sê nou daar’s ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed: gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het van van te lewe nie, wat help dit dan?” Jakobus 2:15 -16
Dien die koninkryk onder armes
’n Klipgooi van my woonbuurt af woon mense soos miere in saamgeflansde huise wat skeef staan teen die wind. En as jy per toeval daar verby ry, waai die wasgoed in die wind vir jou en klap die sinkplate vir jou hande. En die kinders speel in vuil strate terwyl ma’s kook in konkas en pa’s deur die rookmis in die donker huis toe stap.
Snags kan ek nie slaap nie. Dis nag buite en die wind waai vannag verskriklik. Dit reën. Ek sien die gehuggies op ’n ry. Ek kan hulle nie uit my gedagtes kry nie. Ek weet daar slaap te veel mense in een vertrek. En ek weet van olielampe en kerse wat omval en huise aan die brand steek. En ek weet daar’s geluide in die nag wat kinders bangmaak.
Ek wens ek het nie geweet terwyl ek tussen my skoon wit lakens slaap nie. Ek wens ek kon sê dis hulle eie skuld dat hulle so bly. Hulle moet teruggaan van waar hulle kom. Hulle moet sorg dat hulle werk kry. En so sus ek my uiteindelik aan die slaap.
Waar is God se helpende hand?
As ek maar net een keer my hand kon uitsteek na iemand daar om te wys ek sien dit al kan ek nie veel doen om die nood te verlig nie. Of kan ek? Ek weet daar’s talle helpende hande wat mense vrywillig help om huise te bou of wat doelbewus eenvoudiger leef sodat hulle solidariteit met die armes kan toon. Wat van my?
Gebed vir vandag:
God, ek weet in u huis is daar baie wonings terwyl ek in my hart nie eens ruimte vir een ellendige mens kan maak nie. Vergewe my en maak my hande sterk om te help waar U my wil hê.