Vers n dag - 19 April 2013
God se “celebs”
Hennie Symington
Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. Matteus 25:40
Ons is almal in ’n mindere of meerdere mate behep met bekendes, sterre en met mense in die nuus. Iemand hoef maar net twee keer op TV te verskyn en hy of sy het sterstatus. Iemand hoef maar net ʼn redelike goeie vermaaklikheidskunstenaar te wees of baie geld te hê of iets skandaligs in die openbaar aan te vang om bekendheid te verwerf.
Wat van die talle onbekende mense wat dag vir dag “klein heldedade” in hulle eie omgewing verrig sonder enige erkenning of om “celebrity”- status te verkry. Ons kry hulle oral in die samelewing. Mense wat betrokke raak by die wel en die weë van ander en hulle lig laat skyn op die stukkie aarde waar hulle geplaas is. Mense soos ek en jy wat maar net doen wat God van hulle vra
Nie slegs vir heiliges
Om mense wat wat buitengewone diens aan die samelewing te verrig as heiliges op te hemel, doen almal eintlik ’n onguns aan.Want dan sit diegene wat hulle nie as die heiliges van hierdie wêreld sien nie, handegevou terug en laat dit oor aan die sogenaamde heiliges onder ons om God se werk op aarde te doen.
Gebed vir vandag
Here, U verwag nie van ons groot dade te doen nie maar slegs om deur klein dade van liefde ’n stukkie hemel op aarde te skep.