Die Onse Vader-gebed (3)

Quintus Heine

Matteus 6:10 "laat u koninkryk kom."

Hier het ons die kern van die evangelie in een bede. Met hierdie gebed word verklaar: God is die Skepper en die Koning van die heelal. Hierdie koninkryk groei en brei uit oor die hele wêreld en deurspek elke terrein van ons lewe. God bring sy koninkryk tot stand teenoor die bose. Wie in Jesus Christus glo, is deel van hierdie koninkryk.

Wanneer gelowiges hierdie bede bid, dan bely hulle:

  1. Dat God in beheer is van die wêreld. Dit staan teenoor die leuen dat die bose in beheer is van die wêreld en die lewe. Die wêreld beloof wonderlike dinge, maar kan nie die aarde 'n beter plek maak nie. Dit is slegs God wat kan. As jy bid "laat u koninkryk kom" dan bid jy dat die Here asseblief moet oorneem en die wêreld 'n  beter plek maak. Jy bid dat God reg en geregtigheid sal laat seëvier. Dat sy koningskap oor armoede, lyding en siekte sal heers. Wat 'n wonderlike belydenis om te bid.
  2. Met die gebed verklaar jy jou bereidwilligheid om betrokke te raak by samelewingsvraagstukke. Dat jy God se hande op aarde sal wees om dit 'n beter plek te maak. Dat jy siekes sal versorg, armoede gaan verlig, mense se lyding sal ligter maak. Jy verklaar jou bereidwillig om die verlossing van Jesus te verkondig. Jy verklaar dat jy jou bes gaan doen om God se liefde in die wêreld uit te leef!
  3. Met die gebed bely jy dat die Here jou regeer deur sy Woord en Gees en dat jy in alles jouself aan God wil onderwerp. Met die gebed erken jy dat God nog besig is met jou lewe en bid jy dat die Here al hoe meer van jou besit sal neem en jou lewe sal oorneem. Jy verklaar dat jy elke dag doelbewus meer en meer geestelik gaan groei sodat God se genade en liefde in jou lewe gesien kan word.
  4. Dit is ook 'n gebed van vertroue – dat jy die Here se heerskappy vertrou en jou aan sy wil sal onderwerp.

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.