Die Onse Vader-gebed (4)

Quintus Heine

Matteus 6:10 "laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel."

In die hemel geskied God se wil volledig. Daar waar God se woonplek is, word sy wil nie bestry nie. Op die aarde gebeur dit nog wel en daarom vra die gebed dat God se wil ook hier sal geskied. Met hierdie derde bede vra ons vir God om ons te help om nie teen sy wil te bid nie.

Om te bid na die wil van die Here is om ons te verbind om doelbewus die Here se wil te soek. Dit vra (1) gehoorsaamheid aan God en (2) 'n oorgawe aan God.

Gehoorsaamheid: God se wil is hoofsaaklik in die Bybel opgeteken. Daarom is dit belangrik om die Bybel te bestudeer en gaan gebed en die lees van die Bybel gewoonlik hand aan hand. Verder word jy ook bewus van die wil van die Here as jy naby aan God leef. Hoe verder jy van God leef en hoe minder jy die Bybel in sy geheel lees, hoe moeiliker is dit om sy wil te onderskei. Hoe meer jy bid, hoe duideliker word die Here se wil vir jou (sien Psalm. 13). God is deur sy Gees altyd by jou teenwoordig. Hy openbaar aan jou sy wil deur onder andere: die Bybel, jou gewete, Christen vriende, omstandighede, gesonde verstand en gebed. Om die wil van die Here te soek beteken dat ons aan God se Woord en die Heilige Gees gehoorsaam sal wees! Ons moet dus daarteen stry om ons eie wil op God af te dwing.

Oorgawe aan God: Met die gebed verklaar ons, onsself bereidwillig om God se wil vir ons lewens te aanvaar,maak nie saak wat met ons gebeur of hoe ons gebede beantwoord word nie. As ons lewens anders uitdraai as waarvoor ons gevra het, moet ons steeds voor die Here buig en dit aanvaar. As jy dus hierdie gebed bid, gee jy jou eie wil oor aan die wil van die Vader, daarom bid ons altyd: "nie my wil nie Here, maar U wil!" Hiermee verklaar jy dat God in beheer is van jou lewe. Ons eie drome is nie noodwendig God se droom vir ons nie. Daar moet 'n totale oorgawe van ons hele menswees aan God gedoen word. Soos Job moet ons voor God stil word omdat Hy in beheer is.

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook diƩ vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.